Johan de Wet:
(Voorsitter)
|
Johan de Wet is sedert 2000 voorsitter van die direksie van die Noordelike Helpmekaar-studiefonds. Hy is ’n afgetrede joernalis. In sy loopbaan was hy redakteur van altesame drie koerante – Die Volksblad, Beeld en Rapport. Hy was ook mederedakteur van City Press, Sondagkoerant wat op swart lesers gemik is. Sy joernalistieke loopbaan het in Pietersburg (nou Polokwane) begin, waar hy gebore is en aan die Hoërskool Pietersburg gematrikuleer het. |
Willem Viviers: (Ondervoorsitter)
|
Willem Viviers, ondervoorsitter van die direksie, is ʼn prokureur verbonde aan die firma Klopper Jonker Ing van Alberton. Hy is ’n lid van Helpmekaar se direksie sedert November 2010. Hy is lid van Helpmekaar se dagbestuur, asook van die finansiële komitee. Mnr. Viviers het einde 1970 aan die Hoërskool Alberton gematrikuleer, waar hy vier jaar lank vir die skool se eerstespan tennis gespeel het. Hy het die graad B.Proc aan die Potchefstroomse Universiteit (nou die Noordwes-Universiteit) verwerf. |
Ulrich Joubert:
|
Ulrich Joubert, wat van 2004 af in die direksie is, is ’n oud-Kapenaar wie se loopbaan hom deur die staatsdiens, staatskorporasies en banksektor geneem het. Hy was die groepekonoom van Transnet van 1989 tot Maart 2006. Hy is tans ’n onafhanklike ekonoom; dien in die hoofbestuur van die AHI en is ’n gewese voorsitter van die Johannesburgse Afrikaanse Sakekamer en die ekonomiese advieskomitee van die AHI. Hy lewer gereeld kommentaar aan die gedrukte media, radio en TV en is die enigste ekonoom wat Beeld se ekonoom van die jaar-kompetisie vier keer gewen het. |
Thérèse de Frey (Maarschalk): |
Thérèse de Frey (Maarschalk) is ‘n algemene praktisyn met kwalifikasies in tropiese medisyne, beroepsgesondheid en palliatiewe sorg. Nadat sy by ‘n sendinghospitaal in Malawi gewerk het asook in Engeland, was sy ‘n algemene praktisyn in Rooseveltpark, Johannesburg. Sy was die vrywillige dokter by MES se hospice vir haweloses in Hillbrow. Sedert 2000 werk sy saam met haar eggenoot, Albie de Frey, in hulle Travel Doctor onderneminng wat omvattende gesondheidsorg aan besigheid en vakansie-reisigers verskaf. Sy is tans die beroepsgeneeskundige vir Anglo American se korporatiewe kantoor in Rosebank en gee lesings in Reisgeneeskunde vir die jaarlikse kursus aangebied deur WITS Universiteit. Haar stokperdjies sluit in draf, naaldwerk, koorsing en klarinetspeel. |
Johan la Grange:
|
Johan la Grange is lid van die Helpmekaar-direksie sedert 2010; gebore in Kaapstad maar het matriek in Klerksdorp afgelê. Daarna het hy die graad B.Com. (Rek.) en STR aan Tukkies (buitemuurs) behaal en in 1971 die GR SA-eksamen geslaag. Hy praktiseer sedert 1972 as geregistreerde rekenmeester en ouditeur in Pretoria. |
Jan Hofmeyr:
|
Jan Hofmeyr, direksielid van die Noordelike Helpmekaar-studiefonds sedert 2009, het reeds tydens sy studentejare aan die UP as jeugleier na vore getree. Ná voltooiing van sy studies in 1959 het hy ’n beroep as leraar van die gemeente Meadowlands in Soweto van die NG Kerk in Afrika aanvaar. Ses crèches asook ’n kerksentrum is onder sy leiding in Meadowlands tot stand gebring. Van 1967 tot 1992 het hy diens gedoen as sinodale jeugleraar van die NG Kerk in Afrika en was instrumenteel in die daarstelling en bedryf van ’n kerkkoshuis in Itsoseng, Lichtenburg asook ’n Kinderhuis in Emdeni, Soweto. Van 1979 tot 1992 het hy as saakgelastigde van die sinode diens gedoen. In 1974 het hy die leiding geneem in die stigting van die nasionale studiebeursorganisasie Studietrust. Van 1992 tot 2008 was hy nasionale direkteur van hierdie organisasie, wat oor die jare duisende jongmense gehelp het om hul studies voor en ná matriek te kon voortsit. Met sy uittrede as nasionale direkteur in 2008 het ’n getal van om en by 600 jongmense beurs- en leningshulp ten bedrae van R8,26 m deur middel van Studietrust ontvang. Ná sy aftrede het hy nog voortgegaan as trustee, boekhouer en studentementor. Hy was ook betrokke by National Student Financial Aid Scheme. Van 2012 af dien hy Studietrust verder as trustee. |
Elna Rossouw: |
Elna Rossouw (née Fouché) is in 1957 in Kaapstad gebore en voltooi laerskool op Jan van Riebeeck. In 1970, word haar pa na Johannesburg verplaas en die gesin trek in by Woodleyweg 43, Cresta − vandag die tuiste van NHSF. Elna matrikuleer in 1974 aan Hoërskool Linden, en is in 1975 deel van die eerste eerstejaarsgroep op die nuwe Auckland Park-kampus van die Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg). Hier verwerf sy ‘n BA- en ‘n honneursgraad in Kommunikasie. Ná haar studies begin sy as algemene verslaggewer by Beeld werk en word in 1981 aangestel as artikelskrywer vir die tydskrif SARIE se kantoor in Johannesburg. Sy bedank ses jaar later om tweelingseuns groot te maak en begin ‘n vryskutloopbaan. Kort ná die geboorte van haar derde seun sluit sy by rooi rose aan en word later bevorder tot besturende redakteur van die tydskrif. Aan die begin van die millennium, betree Elna die akademie en begin sy klasgee by haar alma mater in die Departement van Kommunikasie. In 2005 verwerf sy ‘n MPhil in Joernalistiek (cum laude) by die Universiteit Stellenbosch. In Desember 2021 word ‘n doktorsgraad in Joernalistiek (ook by US) aan haar toegeken. Ná twee dekades in die akademie, tree Elna aan die einde van 2022 af … dankbaar vir die voorreg om die praktyk en die wetenskap van joernalistiek te kon kombineer. Sy is lid van die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (SANEF) en dien oor die jare as beoordelaar op verskeie panele wat uitmuntendheid in joernalisitiek bekroon. Elna is getroud met Kobus, ‘n prokureur, en hulle woon al langer as veertig jaar in hul huis in Berario, Johannesburg. |
Frik van Deventer: |
Frik van Deventer matrikuleer in 1986 aan Afrikaans Hoër Germiston waarna hy B.Proc aan die NWU, voorheen PU vir CHO, gaan studeer. Voordat hy in 1993 graad kry was hy betrokke by verskeie studente organisasies waar hy onder andere dien as SR Lid (Jool), asook as Onder -Primarius van Villagers. In 1995 word hy toegelaat en praktiseer sederdien as prokureur in Gauteng waar hy ook woon. Vanaf 2002 tot 2013 was hy ‘n direkteur van ‘n nasionale firma. In July 2013 vestig hy Van Deventer Dlamini Ingelyf as spesialis in sakeredding, likwidasies en, in die algemeen, alle kommersiële regswerk. Frik is ‘n lid van SARIPA en ‘n ervare sakereddingspraktisyn. Hy dien eers vir ‘n drie jaar termyn as lid van die uitvoerende komitee van die Konvokasie van die NWU, en is tans voorsitter van die Potcherstroomkampus-Alumni waar hy sy volgehoue band met die NWU en liefde vir studente en studentelewe steeds bevorder en uitleef. Frik geniet ‘n rondte gholf, ‘n verskeidenheid van musiek, die buitelug en draf ook graag wanneer hy kan. |
Frits Kok:
|
Frits Kok, besturende direkteur van die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds, is in Pietersburg (Polokwane) gebore, maar het sy skoolopleiding in Pretoria voltooi. Daarna het hy aan die PU vir CHO (nou NWU) studeer, asook aan die Potchefstroomse Onderwyskollege, Unisa en Stellenbosch. Hy was by verskeie studentebedrywighede betrokke, o.m. as studenteraad-voorsitter en vise-president van die Afrikaanse Studentebond. Hy begin as onderwyser en departementshoof, waarna hy ATKV-bestuurshoof word. In sy bykans 25 jaar by die ATKV was sy taakuitvoering kultuurbevordering en die winsgewende bestuur van verskeie ondernemings, soos 6 vakansieoorde, ʼn uitgewery (LAPA) en verwante ondernemings. Die inkomste uit hierdie ondernemings is gebruik om die kultuurkomponent te finansier. Dr. Kok was betrokke by ʼn lang lys instansies as direkteur, raadslid, of trustee. Dit sluit in die SAUK-raad, die Stigting vir Skeppende kunste, Johannesburgse Stadskouburg, Gauteng se Interim Kuns- en Kultuurraad, die Streekraad vir Kultuursake: Suid-Transvaal, Pendoring se reklametoekenningskomitee; die raad van die NWU, ATKV-skryfskool, Studietrust, Project Literacy, en die Gautengse Onderwys- en Opleidingsraad. Hy het voorts in die beheerraad van die Voortrekkermonument gedien, in die Strategiese komitee van die Vryheidspark ( Freedom Park), die Democracy Education Broadcasting Initiative, Maatskappy vir Immigrasie en die hoofbestuur van die Afrikaanse Handelsinstituut. Hy is sedert 2011 heeltyds by Helpmekaar betrokke en is die trotse pa van 4 kinders en oupa van 9 kleinkinders. |
Magda Swart:
|
Magda Swart het in die vorige eeu BA (kommunikasiekunde) aan die destydse PU vir CHO gestudeer en het in 1979 by Beeld ingeval as algemene verslaggewer in die nuuskantoor. Later het sy gespesialiseer in beriggewing oor staatsdiens- en onderwyssake voordat sy rondom 1996 een van die eerste vroue was wat ’n hoofredaksielid van Beeld geword het. Sy was ook by Rapport, waar sy adjunkredakteur was, voordat sy beheer oorgeneem het van die nasionale produksiespan. Met die koms van Netwerk24 het die produksie en taalversorging van dié aanlyn publikasie ook haar span se verantwoordelikheid geword. Sy het in haar tyd as verslaggewer in sowel Johannesburg as Pretoria gewoon en gewerk. Nadat sy in ’n stadium weg is by Naspers om by die departement van landbou in Pretoria te gaan werk, is sy gevra om terug te kom en was toe deel van die eerste redaksie van Finansies en Tegniek. Sy was ook betrokke by die ontwerp en ontwikkeling van verskeie ander produkte waarvan Beeld se kuns- en vermaaklikheidsbylae, Plus, en Rapport se tydskrif MyTyd vir haar uitstaan. Magda het op ’n plaas in Heilbron in die Vrystaat grootgeword en matriek geskryf aan die Hoërskool Willem Pretorius. Sy woon nou in Linden, Johannesburg, maar die verbintenis met die Vrystaat is steeds baie sterk. Haar enigste seun, Mathinus, het voor haar betrokkenheid by die NHSFonds, met die hulp van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds gestudeer. |
Christo Luüs:
|
Christo Luüs matrikuleer aan Carletonville Hoërskool en studeer aan die RAU (nou UJ) waar hy sy B.Com (Hons) in ekonometrie verwerf. Na sy weermagopleiding, begin hy by die United Bouvereniging werk wat later ABSA bank word. In 1992, behaal hy die MBL-graad aan Unisa. Tussen 1998 en 2007, is hy hoofekonoom van die Absa Groep en dien onder andere op die Absa Groep Bedryfsraad en die Groep Strategie-raad. Die bank se ekonomiese navorsingsdepartement publiseer ‘n aantal gereelde publikasies. Hy was ook verantwoordelik vir die ontwikkeling van onder andere ‘n omvattende huisprys-databasis, ‘n kwartaal-gebaseerde sikliese makro-ekonometriese vooruitskattingsmodel , sowel as ‘n langtermyn strukturele model vir Suid-Afrika. Hy doen heelwat aanbiedings ter plaatse en in die buiteland, onder andere by banke in Londen, Frankfurt, Brussel en New York. Christo dien as voorsitter van die Johannesburgse Sakekamer en verteenwoordig sy werkgewer by SACOB, BUSA, BLSA en die AHI. Hy word deur die Minister van Finansies aangestel op die Raad van Statistiek SA (dien later as voorsitter) wat toesig hou oor die insameling en verwerking van ekonomiese statistiek . Hy dien op die Sentrale Raad van die Ekonomiese Vereniging. Hy was ook mede-outeur van verskeie boeke rakende die finansiële marke en instrumente in SA, sowel as persoonlike finansies. Hy verwerf die kwalifikasie FIFM van die SAIFM (Fellow of the Institute of Financial Markets). Hy verlaat Absa se diens in 2007 en begin sy eie konsultasiebesigheid, Ecoquant. Hy is sedert 2012 voorsitter van die raad van SAIFM wat verantwoordelik is vir die eksaminering en kwalifisering van handelaars en ander rolspelers in die finansiële markte. Hy dien ook op die direksie en die risiko- komitee van die Flower Foundation, ‘n maatskappy wat aftree-oorde bedryf. Hy word in 2021 lid van die direksie van die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds. |
Prof. Bobby Tait:
|
Prof. Bobby Tait, verbonde aan Unisa se Skool vir die Rekenaarwese, is ’n deskundige op die gebied van kubersekerheid. Hy het reeds talle navorsingstukke gepubliseer en word dikwels genooi om op te tree op internasionale konferensies hier, oorsee en in Suid-Afrika se buurstate. Prof. Tait het aan die Wes-Rand grootgeword en aan die RAU (nou die Universiteit van Johannesburg) studeer, waar hy uiteindelik ook doseer het voordat hy hom by Unisa aangesluit het. Hy is sedert 2019 lid van die Helpmekaar-direksie. Sy wye navorsing is gerig op informatika-sekuriteit ten opsigte van biometriese tegnologie, wat pleks van gewone wagwoorde, aangewend kan word om toegang tot rekenaars te verkry. Hy spesialiseer gevolglik op die ontwerp van beter – en alternatiewe – metodes en tegnologie vir die gebruik van vingerafdrukke, iris-, retina- en stemherkenning. Die doel is uiteraard om rekenaargebruikers te beskerm teen kuberkraak-aanvalle of roofsagteware.
|
Jannie Rossouw:
|
Jannie Rossouw is in Stellenbosch gebore en het aan die Hoërskool Menlopark in Pretoria gematrikuleer. Hy het die M.Com (Ekon) en MBA grade aan die Universiteit van Pretoria verwerf en het ‘n PhD-graad aan die Universiteit van KwaZulu-Natal verwerf. Hy is sedert 1 Januarie 2022 ‘n besoekende professor by Wits Bestuurskool (WBS) na ‘n dienstydperk as WBS se Tussentydse Hoof. Tot 2012 was hy ‘n Adjunkhoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Reserwebank en het daarna onder meer as Hoof van die Skool vir Ekonomiese en Sakewetenskappe by die Universiteit van die Witwatersrand gedien. Jannie het wye ondervinding van korporatiewe bestuur en beheer. Hy is Ondervoorsitter van die Oudit- en Risikobestuurskomitee van die SA Akademie van Wetenskap en is ook ‘n lid van die Direksie. Hy is lid van die Oudit- en Risikokomitee van die Afrikaanse Taalmuseum en –monument in die Paarl. Hy dien ook op die Raad van Trustees van die Unisarf pensioenfonds en van die SA Reserwebank pensioenfonds. Hy dien op die Direksie van Satsanga Fintech Bpk en is Voorsitter van die Oudit- en Risikokomitee. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 2019 die Stalsprys vir ekonomie aan Jannie toegeken.
|
Fika J van Rensburg:
|
Fika J van Rensburg is op 12 September 1951 op Frankfort (Vrystaat) gebore as oudste van Stoffel en Dulcie. Hy het op die plaas Voorbeeld groot geword – tussen Standerton en Greylingstad, naby Cedarmont. Hy is getroud met Sunette (Nel) en hulle het drie stelle kinders, en vier kleinkinders. Hy Voorsitter van die Studenteraad van PUK (1973-1974). En vanaf 1987 was hy vir tien jaar huisvader van Karlien Dameskoshuis. Sy spesialiteitsrigting is Verklaarkunde van die Nuwe Testament, waarin hy ‘n doktorsgraad het, en Grieks, waarin hy ‘n meestersgraad het. Hy was navorsings-genoot aan die Yale Universiteit in die VSA, die Humboldt Universiteit in Berlyn, en die Radboud Universiteit in Nijmegen, Nederland. Hy was redakteur en medewerker van sewe omvattende hulpmiddels by die verstaan van die Bybel, waaronder Die Bybel in Praktyk (1993), Die Bybellennium Eenvolume-kommentaar (1999 en 2009), Die Multivertaling Bybel (2004), Die Nuwe Lewende Vertaling (2006), en die Interliniêre Grieks-Afrikaanse Nuwe Testament (2012). Hy het aan verskeie Bybelvertaling-projekte deelgeneem. Die Andrew Murray-prys is vir twee van sy publikasies toegeken, en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het aan hom ʼn medalje toegeken vir Bybelvertaling en Teologie-handboeke. Hy was dosent in Grieks (1973-1980), predikant van die Gereformeerde Kerk Frankfort (1981-1983), en professor in Grieks en Nuwe Testament aan die PUK en latere NWU (1983-2016). Hy was Dekaan van die Fakulteit Teologie, Viserektor Navorsing & Beplanning, en Kampusrektor. Hy het aan die einde van 2018 uitgetree as Adjunk-visekanselier van die Potch-Kampus asook die Adjunkhoof van die NWU. Hy was voorsitter van die Aardklop-Direksie (2017-2020), stigter en Hoof Uitvoerende Beampte van die Cachet Park City Improvement District, ‘n maatskappy wat bepaalde munisipale en sekuriteitsdienste in die groter Bult-omgewing rondom die PUK-Kampus lewer (2019-2020). Hy beskou dit as sy taak en roeping om die Bybel geldig te verklaar en vir ons tyd toe te pas, om hierdie Skrifbeginsels uit te leef en ander daartoe te motiveer en toe te rus. Sedert 2021 het hy en sy vrou hulle in Linden gevestig, waar hy o.a. as prediker hulpdiens lewer by die Gereformeerde Kerk Randburg. Sy lewensleuse is: Slaaf van Christus, tot jou diens. |