NHS
Terug na Ons direksie

Direkteur

Fika van Rensburg

Fika van Rensburg

Slaaf van Christus, tot jou diens.

Prof. Fika J. van Rensburg is op 12 September 1951 op Frankfort in die Vrystaat gebore as oudste kind van Stoffel en Dulcie van Rensburg. Hy het grootgeword op die plaas Voorbeeld, tussen Standerton en Greylingstad. Hy is getroud met Sunette (Nel) en hulle het drie stelle kinders, en vyf kleinkinders.

In sy studentedae was hy voorsitter van die studenteraad van die destydse PU vir CHO (1973-1974), en vanaf 1987 was hy tien jaar lank huisvader van die dameskoshuis Karlien.

Sy spesialiteitsrigting is Verklaarkunde van die Nuwe Testament, waarin hy ’n doktorsgraad het, en Grieks, waarin hy ’n meestersgraad het. Hy was navorsingsgenoot aan die Yale Universiteit in die VSA, die Humboldt Universiteit in Berlyn en die Radboud Universiteit in Nijmegen, Nederland.

Hy was redakteur en medewerker van sewe omvattende hulpmiddels by die verstaan van die Bybel, wat insluit: Die Bybel in praktyk (1993), Die Bybellennium eenvolumekommentaar (1999 en 2009), Die multivertaling Bybel (2004), Die Nuwe Lewende Vertaling (2006) en die Interliniêre Grieks-Afrikaanse Nuwe Testament (2012). Hy het aan verskeie Bybelvertaling-projekte deelgeneem. Die Andrew Murray-prys is vir twee van sy publikasies toegeken, en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het aan hom ʼn medalje toegeken vir Bybelvertaling en teologie-handboeke.

Hy was ’n dosent in Grieks (1973-1980), predikant van die Gereformeerde Kerk Frankfort (1981-1983) en professor in Grieks en Nuwe Testament aan die Potchefstroomse Universiteit en latere Noordwes-Universiteit (1983-2016). Hy was dekaan van die fakulteit teologie, viserektor: navorsing & beplanning, en kampusrektor. Hy het einde 2018 uitgetree as adjunkvisekanselier van die Potch-Kampus asook adjunkhoof van die NWU. In die tydperk 2021-2024 het hy as prediker hulpdiens by die Gereformeerde Kerk Randburg gelewer.

Hy was voorsitter van die Aardklop-direksie (2017-2020), stigter en uitvoerende hoofbeampte van die Cachet Park City Improvement District, ’n maatskappy wat bepaalde munisipale en sekuriteitsdienste in die groter Bult-omgewing rondom die PUK-Kampus lewer (2019-2020). Hy dien sedert 2024 in die Raad van die NWU en is voorsitter van die People and Culture and Employment Equity Komitee. Hy is voorsitter van die direksie van die Village of Golden Harvest One in Bromhof.

Hy beskou dit as sy taak en roeping om die Bybel geldig te verklaar en vir ons tyd toe te pas, om die Skrifbeginsels uit te leef en ander daartoe te motiveer en toe te rus.

Sedert 2021 woon hy en sy vrou in Bromhof (Randburg).

Terug na Ons direksie