
Studielenings sedert 1962
Noordelike Helpmekaar-Studiefonds
Ons erfenis
Uit verarming, ’n beweging van omgee
Die Noordelike Helpmekaar-studiefonds (NHS) is nou verweef met een van die grootste selfhelpbewegings van die Afrikanergemeenskap in die vroeë 1900’s ná die Rebellie van 1914.
Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 het Suid-Afrika ingestem om Duitswes (vandag Namibië) op versoek van Brittanje aan te val en te annekseer omdat dit ’n Duitse kolonie was. Vir baie mense was dit onaanvaarbaar, want vir hulle was dit ondenkbaar dat “die kinders van die konsentrasiekampe” oorlog moet maak teen die Duitsers, wat die Boererepublieke tydens die Anglo-Boere-oorlog ondersteun het.
’n Rebellie het uitgebreek en sowat 11 000 mense het daaraan deelgeneem. Die opstand is onderdruk en baie van die rebelle is beboet en moes skadevergoeding betaal. Net in die Vrystaat, waar die meeste rebelle vandaan gekom het, was die bedrag nagenoeg 336 000 pond. Dit was ’n enorme bedrag geld as in ag geneem word dat ’n gegradueerde onderwyser in daardie tyd vir 120 pond per jaar begin werk het.
’n Groep mense het toe op Bethlehem besluit hulle moet “saamdra en saamwerk” om die rebelle se skuld te help delg. Dié beweging is later Helpmekaar genoem.
Soortgelyke verenigings het ook in die destydse Transvaal en Kaapland ontstaan. In Julie 1917 is ’n kongres van die onderskeie Helpmekaar-verenigings gehou en daar is gehoor dat daar nog sowat 110 000 pond uitstaande is.
Hoewel dit na ’n onmoontlike taak gelyk het om dié geld in te samel, het hulle nie opgegee nie. 10 November 1917 is as Helpmekaardag verklaar en die doel was om op daardie dag genoeg geld te hê om al die boetes en skuld van die rebelle te betaal.
Die nuus het versprei en Die Burger het kort daarna berig ’n boer van die Paarl het aangebied om 500 pond tot die Helpmekaarfonds by te dra as 500 ander mense elkeen 100 pond skenk.
Kenmerkend van die gees van die insameling, was die skenking van een boer: Hy het twee hoenders gestuur. “Dit is al wat ek het. Ek is geheel uitgeboer,” het hy laat weet. Koshuisseuns van ’n skool het besluit om ’n kwartaal lank nie botter te gebruik nie en die geld aan die Helpmekaar te skenk. Toe mense toe vir hulle botter skenk, het hulle dit aanvaar en gevra of hulle dit ook kon verkoop om hul Helpmekaarbydrae aan te vul. Gesinne het klaargekom sonder vleis en suiker en die geld wat so gespaar is, geskenk; kinders het uit hul sakgeld bygedra en gesellighede is afgelas om die geld wat só gespaar is, aan die fonds oor te dra. Gemeentes het van deur tot deur gekollekteer, vroue en vroue-verenigings het geld ingesamel met basaars, pieknieks en so meer en uit die jeug self het 44 skenkings van 100 pond gekom.
Uiteindelik was daar 1 415 honderdponders en saam met ’n laaste dag se groot fondsinsameling is daar in vandag se terme ’n bedrag van meer as R150 miljoen in nagenoeg vier maande ingesamel. Nadat al die skuld vereffen is, het geld oorgebly wat onder die onderskeie provinsies verdeel is om aan te wend vir studiehulplenings.
Die Transvaalse Helpmekaarvereniging het voortgegaan om studielenings aan studente beskikbaar te stel. In 1940 is ’n groot bedrag aan die Universiteit van Pretoria oorgedra vir die vestiging van die mediese fakulteit. In ruil sou die Universiteit jaarliks studielenings toeken aan benoemde studente.
Later is ’n erf ook oorgedra aan die Abraham Kriel-kinderhuis.
Die belangstelling in die vereniging se werksaamhede het egter getaan en dit is in 1953 ontbind nadat die laaste groot bedrag aan die Noord-Transvaalse Kreupelsorgvereniging geskenk is.
In 1962 is die Vereniging weer gestig en het gegroei tot wat die Noordelike Helpmekaar-studiefonds vandag is.

“Ons moet saamdra en saamwerk.”
Die oorspronklike ideaal van die Helpmekaarbeweging leef vandag voort in ons fonds wat jong mense help om tersiêre onderrig te kan bekostig deur studielenings aan hulle beskikbaar te stel. Hoewel die omstandighede heeltemal anders is as in 1917, bly die kernbeginsel dieselfde: om deur onderwys geleenthede te skep en mense te help om hul potensiaal te bereik.
Daarom is die NHS meer as net ’n studiefonds. Dit is ook ’n nalatenskap van samewerking, selfverantwoordelikheid en die geloof dat onderwys ’n belegging in die toekoms is.
Die fonds in kort
- R80 000
- per jaar beskikbaar
- prima −3%
- rentekoers tydens studie
- 1917
- het alles begin
- 60+
- jaar van hulp
Verken die fonds
Vind jou volgende stap
Begin jou reis
Gereed om aansoek te doen?
Laai die vyf aansoekvorms af en kontak die NHS-kantoor — ons help jou graag deur die proses.