NHS

Ons span

Ons personeel

Die toegewyde mense in die NHS-kantoor — dis húlle wat die daaglikse administrasie behartig en studente met sorg deur die proses begelei.

Die NHS-kantoorspan
  • Frits Kok

    Frits Kok

    Besturende Direkteur

    Frits Kok is in Pietersburg (Polokwane) gebore, maar het sy skoolopleiding in Pretoria voltooi voordat hy gaan studeer het aan die PU vir CHO (tans die Noordwes Universiteit), die Potchefstroomse Onderwyskollege, Unisa en die Universiteit Stellenbosch.

    Tydens sy studiejare was hy betrokke by verskeie studentebedrywighede, en het onder meer gedien as voorsitter van die studenteraad en visepresident van die Afrikaanse Studentebond (ASB).

    Hy het sy loopbaan as onderwyser begin en tot departementshoof gevorder, waarna hy by die ATKV as bestuurshoof aangesluit het. Hy was byna 25 jaar lank daar betrokke.

    As besturende direkteur het sy werk daar uit twee komponente bestaan: ’n kultuurbevorderingskomponent met talle kultuurprojekte en takke, en die winsgewende bestuur van verskeie ondernemings, soos ses vakansieoorde, ’n uitgewery (Lapa) en verwante ondernemings. Die inkomste uit dié ondernemings is gebruik om die kultuurkomponent te finansier.

    Hy was ook in die posisies van direkteur, raadslid en trustee betrokke by ’n aantal instansies en liggame. Dit sluit in: die raad van die SAUK, die Stigting vir Skeppende Kunste, die Johannesburgse Stadskouburg, die Gautengse Interim Kuns- en Kultuurraad, die Streekraad vir Kultuursake: Suid-Transvaal, die Pendoring Reklametoekenningskomitee, die Universiteitsraad: Noordwes-Universiteit (NWU), die ATKV-skryfskool: PU vir CHO, Studietrust, Project Literacy, die Gautengse Onderwys- en Opleidingsraad, die Beheerraad van die Voortrekkermonument, die Strategiese komitee van Vryheidspark (Freedom Park), DEBI (Democracy Education Broadcasting Initiative), MVI en hoofbestuur van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI).

    Hy is ’n ontvanger van die NWU se Alumni-toekenning en ATKV-erelidmaatskap.

    Hy is besturende direkteur van die NHS en die trotse pa van vier kinders en oupa van nege kleinkinders.

  • Liana Bezuidenhout

    Liana Bezuidenhout

    Administratiewe Beampte

    Liana Bezuidenhout het in Krugersdorp aan die Wesrand gematrikuleer en daarna ’n graad in biblioteek- en inligtingkunde verwerf aan die destydse PU vir CHO (nou die Noordwes Universiteit).

    Daarna het sy verskeie poste in dié verband beklee in openbare, tersiêre en skoolbiblioteke. Toe haar kinders klein was, wou sy meer betrokke wees by hulle en het deeltyds by verskeie mediese praktyke gewerk.

    In Junie 2023 het sy by die NHS-span aangesluit, waar sy verantwoordelik is vir die administrasie in die kantoor en veral ook skakeling met leninghouers en hul ouers.