
Wilma de Bruin het aan die Oranje-Meisieskool in Bloemfontein gematrikuleer en toe gaan studeer aan die Universiteit van die Vrystaat, waar sy ook ’n deeltydse dosent in Latyn en ’n tegniese assistent in die regsfakulteit was.
In haar joernalistieke loopbaan, wat oor meer as vyf dekades strek, was sy in die redaksies van Die Volksblad, Beeld, BY, Kalender (Beeld), Sake24 en Sake-Rapport. As artikelskrywer het sy gewerk vir SARIE, rooi rose, Finweek, Leadership, Executive en De Kat.
Sy was redakteur van onder meer Jou Geldsake (Beeld), Media & Reklame (Sake24), Buurman (Joods-Afrikaanse kwartaalblad van die Joodse Raad van Afgevaardigdes), Restorica (die kultuurhistoriese bewaringstydskrif van die Stigting Simon van der Stel), A Celebration of 100 Years (gedenkuitgawe van die Universiteit van Pretoria se fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe) en die bedryfstydskrif Healthcare Review. Sy was ook redakteur van verskeie interne maatskappypublikasies.
In haar loopbaan het sy nuusvrystellings/artikels geskryf vir onder meer Liberty Medical Scheme, Momentum, Tukkies se fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe, Medihelp, Clover, The Star en Citizen Travel, asook Unilever. Vir altesame 12 Suid-Afrikaanse rolprente was sy publisiteitsbeampte, byvoorbeeld vir Jamie Uys se The Gods Must be Crazy en Funny People.
Vir langer as twee dekades was sy as mediaskakel en -skrywer nou betrokke by die Pendoring-reklamekompetisie. Sy was ook skakelbeampte vir Samra (Southern African Marketing Research Association), terwyl sy ook The Boss of the Year-prys georganiseer het. Daarby was sy ’n hele paar jaar beoordelaar van die AdMag-toekennings en die koerantafdeling van die ATKVeertjies.
Sy is sedert April 2013 lid van die NHS se direksie.