
Prof. Jannie Rossouw is in Stellenbosch gebore en het aan die Hoërskool Menlopark in Pretoria gematrikuleer. Hy woon reeds jare lank in Pretoria.
Hy het onder meer die M.Com- (Ekon) en MBA-grade aan die Universiteit van Pretoria verwerf, asook ’n PhD aan die Universiteit van KwaZulu-Natal.
Hy is sedert 1 Januarie 2025 ’n ere-professor by Wits Bestuurskool (WBS) ná ’n dienstydperk daar as tussentydse hoof. Tot 2012 was hy ’n adjunkhoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Reserwebank en het daarna onder meer as hoof van die Skool vir Ekonomiese en Sakewetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand gedien.
Hy het wye ondervinding op die gebied van korporatiewe bestuur en beheer. Hy is lid van die direksie van Finbond Mutual Bank, voorsitter van die Vergoedingskomitee en dien in die Risikokomitee en in die Direksiesake- en nominasiekomitee. Hy dien ook in die Oudit- en Risikokomitee en is ook die ekonoom van Altitude Wealth in Pretoria.
Jannie het by verskeie geleenthede seminare, kongresse en konferensies in Suid-Afrika en in die buiteland toegespreek. As politieke ekonoom word hy dikwels gevra om kommentaar oor plaaslike en internasionale gebeure (op radio, TV en in koerante). Hy skryf ook ’n maandelikse rubriek vir die Financial Mail.
Hy het ongeveer 70 geakkrediteerde navorsingsartikels as outeur of medeouteur gepubliseer. Hy is die outeur van Inflation is Ungood and Other Sexual Truths, wat in Augustus 2024 deur Naledi uitgegee is. Ook sy boek, Die boogbrug vanaf Orania II na Orania III, is in November 2025 deur Naledi uitgegee.
Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 2019 die Stalsprys vir ekonomie aan hom toegeken.