NHS
Terug na Ons direksie

Direkteur

Christo Luüs

Christo Luüs

Christo Luüs het aan die Hoërskool Carletonville gematrikuleer en aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg) sy B.Com (Hons) in ekonometrie verwerf. Ná sy weermagopleiding het hy gewerk by die United Bouvereniging, wat later ABSA geword het. In 1992 het hy die MBL-graad aan Unisa verwerf.

Tussen 1998 en 2007 was hy hoofekonoom van die Absa Groep en het onder meer in die Absa Groep se Bedryfsraad en die Groep Strategieraad gedien. In dié hoedanigheid het die ekonomiese navorsingsdepartement onder sy leiding ’n aantal gereelde publikasies gepubliseer. Hy was verantwoordelik vir die ontwikkel van onder meer ’n omvattende huisprys-databasis, ’n kwartaallikse sikliese makro- ekonometriese vooruitskattingsmodel, asook ’n langtermyn- strukturele model vir Suid-Afrika. Hy het heelwat lesings aangebied in Suid-Afrika en in die buiteland, onder meer by banke in Londen, Frankfurt, Brussel en New York.

Hy het as voorsitter van die Johannesburgse Sakekamer gedien en het sy werkgewer verteenwoordig by SACOB, BUSA, BLSA en die AHI. Die minister van finansies het hom aangestel in die Raad van Statistiek SA (waar hy later voorsitter was), wat toesig hou oor die insameling en verwerking van ekonomiese statistiek. Hy het ook in die sentrale raad van die Ekonomiese Vereniging gedien.

Hy was medeouteur van verskeie boeke rondom die finansiële marke en instrumente in SA, asook persoonlike finansies. Hy het ook die kwalifikasie FIFM van die SAIFM (Fellow of the Institute of Financial Markets) verwerf.

Hy het Absa in 2007 verlaat en sy eie konsultasiebesigheid, Ecoquant, begin.

Hy was van 2012 tot 2023 voorsitter van die raad van SAIFM wat verantwoordelik is vir die eksaminering en kwalifisering van handelaars en ander rolspelers in die finansiële markte.

Hy dien ook in die direksie en as voorsitter van die oudit- en risikokomitee van die Flower Foundation, ’n entiteit wat aftreeoorde bedryf.

Hy is sedert 2021 ’n direksielid van die NHS.

Terug na Ons direksie