
Frits Kok is in Pietersburg (Polokwane) gebore, maar het sy skoolopleiding in Pretoria voltooi voordat hy gaan studeer het aan die PU vir CHO (tans die Noordwes-Universiteit), die Potchefstroomse Onderwyskollege, Unisa en die Universiteit Stellenbosch.
Tydens sy studiejare was hy betrokke by verskeie studentebedrywighede, en het onder meer gedien as voorsitter van die studenteraad en visepresident van die Afrikaanse Studentebond (ASB).
Hy het sy loopbaan as onderwyser begin en tot departementshoof gevorder, waarna hy by die ATKV as bestuurshoof aangesluit het. Hy was byna 25 jaar lank daar betrokke.
As besturende direkteur het sy werk daar uit twee komponente bestaan: ’n kultuurbevorderingskomponent met talle kultuurprojekte en takke, en die winsgewende bestuur van verskeie ondernemings, soos ses vakansieoorde, ’n uitgewery (Lapa) en verwante ondernemings. Die inkomste uit dié ondernemings is gebruik om die kultuurkomponent te finansier.
Hy was ook in die posisies van direkteur, raadslid en trustee betrokke by ’n aantal instansies en liggame. Dit sluit in: die raad van die SAUK, die Stigting vir Skeppende Kunste, die Johannesburgse Stadskouburg, die Gautengse Interim Kuns- en Kultuurraad, die Streekraad vir Kultuursake: Suid-Transvaal, die Pendoring Reklametoekenningskomitee, die Universiteitsraad: Noordwes-Universiteit (NWU), die ATKV-skryfskool: PU vir CHO, Studietrust, Project Literacy, die Gautengse Onderwys- en Opleidingsraad, die Beheerraad van die Voortrekkermonument, die Strategiese komitee van Vryheidspark (Freedom Park), DEBI (Democracy Education Broadcasting Initiative), MVI en hoofbestuur van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI).
Hy is ’n ontvanger van die NWU se Alumni-toekenning en ATKV-erelidmaatskap.
Hy is tans besturende direkteur van die NHS en die trotse pa van vier kinders en oupa van nege kleinkinders.