
Magda Swart het in 2023 ná ’n loopbaan van langer as 45 jaar in die media afgetree. Sy het in 1979 by Beeld begin werk as algemene verslaggewer nadat sy aan die destydse PU vir CHO die graad BA (kommunikasiekunde) verwerf het.
Sy was in 1996 een van die eerste vroue wat hoofredaksielid van Beeld geword het en was ook by Rapport, waar sy adjunkredakteur was voordat sy beheer geneem het oor Media24 se nasionale Afrikaanse produksiespan. Sy was deel van die eerste redaksie van Finansies en Tegniek en was ook betrokke by die ontwerp en ontwikkeling van verskeie produkte soos Beeld se kuns- en vermaakbylae Plus en Rapport se tydskrif MyTyd.
Magda het op ’n plaas in Heilbron in die Vrystaat grootgeword en aan die Hoërskool Willem Pretorius gematrikuleer.