NHS
Terug na Ons direksie

Direkteur

Elna Rossouw

Elna Rossouw

Dr. Elna Rossouw (gebore Fouché) is in 1957 in Kaapstad gebore en was ’n leerling aan die Laerskool Jan van Riebeeck. In 1970 is haar pa na Johannesburg verplaas en die gesin het ingetrek in Woodleyweg 43 in Cresta − vandag die tuiste van NHS. Elna het in 1974 gematrikuleer aan die Hoërskool Linden en was in 1975 deel van die eerste eerstejaarsgroep op die nuwe Auckland Park-kampus van die Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg). Daar het sy ’n BA- en ’n honneursgraad in kommunikasie verwerf.

Ná haar studies het sy as algemene verslaggewer begin werk by die oggendblad Beeld en is in 1981 aangestel as artikelskrywer vir die tydskrif SARIE. Sy het ses jaar later bedank om haar tweelingseuns groot te maak en het ’n vryskutloopbaan begin. Kort ná die geboorte van haar derde seun, het sy by die tydskrif rooi rose begin werk en is later bevorder tot besturende redakteur van dié tydskrif.

Aan die begin van die millennium het sy die akademie betree en begin klasgee by haar alma mater in die departement van kommunikasie. In 2005 het sy ’n MPhil in joernalistiek (cum laude) aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. In Desember 2021 is ’n doktorsgraad in joernalistiek (ook by US) aan haar toegeken. Ná twee dekades in die akademie, het sy in 2022 afgetree … dankbaar vir die voorreg om die praktyk en die wetenskap van joernalistiek te kon kombineer.

Sy is lid van die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) en het oor die jare as beoordelaar gedien in verskeie panele wat uitnemendheid in joernalistiek bekroon. Sy dien in die direksie van die Clarens Kunstefees wat jaarliks in die Oos-Vrystaatse dorp gehou word.

Elna is getroud met Kobus, ’n prokureur, en hulle woon al langer as 40 jaar in hul huis in Berario, Johannesburg.

Terug na Ons direksie