NHS
←Terug na Suksesverhale

Prestige-funksie · 2026

NHS help talle studente op die pad na sukses

Die Noordelike Helpmekaarstudiefonds (NHS) staan op die eenvoudige, maar kragtige beginsel van ons help jou nou sodat jy ander later kan help. Studente kry ’n studielening en begin dit ná voltooiing van hul studies terugbetaal, sodat ’n volgende geslag weer dieselfde geleentheid kan kry.

So het Johan de Wet, voorsitter, gesê op die prestige-byeenkoms in Johannesburg, waar uitblinkers met merietetoekennings vereer is.

Hy het daarop gewys dat daar in 2026 85 nuwe lenings toegestaan is. Dit beteken dat meer as 300 jong mense tans óf studeer óf hul lenings afbetaal. In die fonds se byna 60-jarige bestaan, het hy na raming tussen 2 000 en 3 000 jong Suid-Afrikaners op hul pad na sukses gehelp.

De Wet het verwys na die direkteure van die NHS, wat toesien dat dié geld reg bestuur word, en gesê dit is ‘n groep mense met wye kennis op uiteenlopene gebiede. Onder hulle tel professore, doktore, regs- en finansiële kundiges en ‘n ekonoom, wat reeds ses keer as Beeld se Ekonoom van die Jaar erken is. Hulle word nie betaal nie, maar stel hul tyd, kennis en ervaring vrywillig beskikbaar in diens van jong mense.

Die daaglikse bestuur berus by Frits Kok en Liana Bezuidenhout, wat volgens hom hul werk met toewyding doen en ware tweede ouers vir NHS-studente word. Daarvan getuig die voortdurende kontak wat hulle met die leninghouers én hul ouers het.

“Maar eintlik gaan dit oor die NHS se eregaste vandag, almal van hulle cum laude-graduandi wat hier vereer word. Hulle is lewenslustige jongmense, vriendelik en geesdriftig. Mense met wie jy oorlog toe gaan. Dit is egter nie ‘n oorlog nie met bomme, missiele en hommeltuie wat ellende, verwoesting en hartseer saai nie, maar ‘n oorlog wat die belofte inhou vir ‘n Suid-Afrika waarin ons almal veilig, positief en in liefde en vrede kan woon.”