1. Maak deurdagte keuses. As toppresteerder lê die wêreld aan jou voete, maar probeer goeie keuses maak gegrond op beskikbare inligting. Dít is jou verantwoordelikheid. Niemand anders kan dit vir jou doen nie.
2. Wees versigtig met krediet. Sodra jy begin werk, gaan jy oorval word met aanbiedings van mense wat vir jou geld wil leen. Dink mooi. Lenings neem lank om af te betaal. “Om skuld te betaal, te beperk en oordeelkundig aan te wend, is ’n baie goeie strategie.”
3. Vertrou Suid-Afrika se onderrigstandaarde. Die gehalte van naskoolse onderrig in die land is goed en sal so bly. Wees dus gerus oor die gehalte van jou opleiding en kwalifikasie.
4. Sê dankie. Ook wat betref jou opleiding en ander geleenthede. Gebruik dieselfde energie om dankbaarheid te betoon as wat jy gebruik het om hulp te vra.
5. Behou fokus te midde van onsekerheid. Ondanks kommer oor die situasie in Suid-Afrika en oorloë en ander onstuimighede in die buiteland, moet jy jou fokus behou. Sukses volg op harde werk, nie op paniek of angs nie.
6. Speel jou kaarte so goed as moontlik. ’n Mens kry nie altyd waarvoor jy vra nie, en jou lewenspad sal ook nie sonder duwweltjies wees nie. Maar die vermoë om teleurstelling te aanvaar en hanteer, is deel van groei en sukses.
7. Aanpasbaarheid is noodsaaklik. Die wêreld verander voortdurend en daarom moet jy voortdurend aanpas en nuwe kundighede aanleer. “So byvoorbeeld het pryse in Suid-Afrika sedert 1976 weens inflasie geweldig gestyg. As ’n mandjie goedere toe R10 gekos het, sal dit nou gemiddeld R600 kos. Bruinbrood se prys was 12c en die prys van petrol aan die einde van 1976 was 22c/liter.” Dit is werklikhede waarby ’n mens eenvoudig moet aanpas.
8. Inflasie is niemand se vriend nie. “Ek gebruik dus die uitdrukking Inflation is ungood.” (Sy handelsmerk) en dit is iets waarmee ons moet saamleef. Al is jy nog jonk, moet jy nou al dink aan jou aftrede en goed beplan aangesien “inflasie in die aftreejare probleme kan bring, want die inkomste hou nie tred met prysstygings nie”.
9. Beskerm ons vryheid van spraak en mediavryheid. Dié verantwoordelikheid rus op die skouers van vandag se studente. “Onthou ook dat vryheid van spraak beteken dat ons mag praat, maar dat diegene wat van ons verskil, ook die reg het om gehoor te word, én die reg om te praat sonder vrees vir nagevolge.”
10. Geniet die lewe. Selfs diegene wat gemiddeld presteer, kan suksesvolle loopbane hê. So vergeet soms ’n bietjie van die erns van die lewe en geniet waarmee jy besig is. “Die lewe is kort, geniet elke dag en geniet elke ding wat gedoen moet word. Gryp elke geleentheid aan!”
— Wilma de Bruin