
My pad na sukses het vroeg in 2024 as eerstejaarstudent begin. Ek het begin met my MBChB-graad en was taamlik benoud oor hoe die pad vorentoe sou lyk. (Akademiese draaie en finansieële doodlope.)
Maar watter ongelooflike ervaring was 2024 toe nie? Daar was talle nuwe ondervindings, nuwe vriende en ‘n nuwe leefstyl ... en dit het ek te danke aan die NHS.
My matriekjaar was gevul met onsekerheid. Nie net het dit soos ‘n ewigheid gevoel voordat ek uiteindelik die e-pos gekry het dat ek ingekom het vir my droomkursus nie, maar toe was daar knaende onderliggende onsekerheid oor hoe ek vir my studies sou kon betaal. Ek het maar bly hoop ek sou die Lotto wen. Uiteindelik was alles in plek en met ekstase en trots het ek my plek in Tuks se medies-klas van 2029 aanvaar.
Die studies is toe inderdaad so moeilik soos wat “hulle” gesê het. Daar was al baie meer laat aande, koffies en angsaanvalle as wat die meeste mense sou glo. Maar uiteindelik is ek net ongelooflik dankbaar vir die besondere groot voorreg wat vir my gegee is. Teen dié tyd het ek al ervaring in disseksies, verskeie afdelings van farmakologie en ‘n wye kennis van die menslike liggaam se fisiologie. Ek geniet ook die mediese kampus, waar ek ure in die biblioteek deurbring en ook van die Universiteit se briljante mediese toerusting kan gebruik.
My ouers het vir die eerste keer van die NHS gehoor by 'n vriendin, en ek het aansoek gedoen. Toe ek aanvaar is, het 'n groot las van my skouers afgerol. Ek het nou die voorreg om spaarsamig met my eie geld te kan werk, én 'n studentelewe sonder finansiële bekommernisse te leef.