
Ek is in my finale jaar aan die Universiteit van Pretoria, waar ek in bedryfsingenieurswese studeer.
Ná skool het ek eers ‘n jaar in BSc biologiese wetenskappe gedoen, omdat ek vas geglo het dat veeartseny die rigting vir my was. Einde 2020 het ek egter besluit om 'n ander rigting in te slaan en ná baie navorsing en gebed het ek besluit op ingenieurswese.
Die pad was aanvanklik nie maklik nie, veral toe ek my eerste jaar tydens die Covid-19-pandemie moes doen. Maar ek het net aangehou om hard te werk en het só my studies al hoe meer begin geniet. En ná 2024 kan ek al daardie harde werk in my uitslae sien.
Dit is vir my regtig ‘n eer om dié merietetoekenning te ontvang en ek wil net dankie sê aan die NHS dat julle vir my die geleentheid en finansiële ondersteuning gegee het om te kan studeer!
Ek wil ook erkenning gee aan my familie, veral my ouers en my oupa, wat my gehelp het om uit te kom by bedryfsingenieurswese. Dit is die beste besluit wat ek kon geneem het, want dit gaan my die geleentheid gee om werklike probleme op te los en ook saam met ‘n span te werk wat regtig ‘n verskil wil maak in mense se allerdaagse lewens.