
Met die hulp van die NHS kon ek my graad in B Rekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch in 2023 voltooi. Nie net was daardie stukkie papier peperduur nie, maar het dit ook gesorg vir baie laat aande en klippe kou, asook vroegoggende by die biblioteek. En dit het vele gebede en ondersteuning vereis.
Maar as ek terugkyk, word die herinneringe van angstige eksamentye vervang met herinneringe van MyBrew se warmsjokolade met die gebabbel van vriende op ‘n nat wintersoggend, swem in die Coetzenburgdam op 'n warm somersaand en die saamdrom van maroen Maties-hemde op die paviljoen tydens Varsity Cup.
'n Mens vergeet van die swaar en onthou die goeie tye. Wat ‘n voorreg om die Here se hand deur al die moeilike tye te ervaar!
Ek is tans besig om klippe te kou aan my nagraadse diploma in rekeningkunde, waarna ek by PWC in Stellenbosch my klerkskap van drie jaar gaan aanpak. Gelukkig weet ek daar wag vir my klomp herinneringe om oor terug te dink in 2024.
Weer eens baie dankie aan NHS wat dié geleentheid vir my ‘n werklikheid gemaak het.