
Ek het in Centurion grootgeword en in 2023 aan die Hoërskool Eldoraigne gematrikuleer. Daarna het ek gaan studeer by Sol-Tech, waar ek besig is met my opleiding as meulmaker, ’n ambag wat ’n unieke kombinasie van meganiese en elektriese kennis vereis.
Met dié kwalifikasie (Beroepsertifikaat: meulmaker, NKR-vlak 4) word ek goed voorberei op ’n loopbaan in die vervaardigings- en produksiebedryf, waar gevorderde outomatisering en tegnologiese integrasie aan die orde van die dag is.
Ek is passievol oor tegniese werk en wil nie net ’n bekwame vakman wees nie, maar ook iemand wat ’n positiewe bydrae tot die nywerheidslandskap van Suid-Afrika kan lewer. Dié studierigting laat my toe om my liefde vir tegniek, probleemoplossing en praktiese uitdagings uit te leef.
Ek wil graag die NHS, wat dit vir my moontlik gemaak het om te studeer, bedank. Dié finansiële steun is vir my van onskatbare waarde en dra regstreeks by tot my droom om as ’n gekwalifiseerde en volwaardige meulmaker 'n verskil te maak in ons land.