
Ek studeer medies aan die Universiteit van Pretoria en, al was alles nie die hele tyd maanskyn en rose nie, geniet ek steeds elke oomblik van my tyd op kampus.
Ons het in 2024 oorgegaan van hoofsaaklik net teorie, na 'n verdeling van ons dag tussen prakties en teorie. Die oorskakeling het my onkant gevang en ek het gesukkel om aan te pas by die nuwe roetine.
'n Paar weke lank het dit vir my gevoel ek kom nooit tot stilstand nie. Dit was in dié tyd dat die Here se genade vir my 'n werklikheid geword het. Ek is dankbaar vir dít waardeur ek gaan, want dit het my geloof versterk en vandag kan ek sonder twyfel sê Hy is die rots waarop ek staan.
Ek waardeer my vriende en familie, wat my bygestaan het in dié besige seisoen. Hulle het my gereeld opgedra in hul gebede en my konstant terugverwys na die Here. En dit maak die groot verskil.
Ek is ook baie dankbaar vir die finansiële ondersteuning wat die NHS my bied. Dit verseker dat ek my nie nog oor die finansies ook hoef te bekommer nie.