
My studieloopbaan het begin toe ek registreer vir BSc met fisiologie, genetika en sielkunde as vakke. Ek het daarmee saam drie addisionele vakke geneem in die eerste semester wat my die kans gebied het om in die middel van die jaar oor te skakel na medisyne. Ná positiewe resultate is my aansoek goedgekeur en my MBChB-loopbaan het in die tweede semester begin.
Die struktuur van die mediese kurrikulum by die Universiteit van Pretoria verdeel verskeie studiegebiede van medisyne op in “blokke”, waar een gebied of spesialiteit afgehandel word voordat jy na die volgende beweeg. Terselfdertyd roteer studente tussen verskeie departemente en doen ook praktiese kennis op.
Die meeste teorie word afgehandel teen die eerste semester van die vyfde jaar, waarna die internskap begin en studente slegs praktiese kennis in verskeie hospitale en klinieke opdoen.
In medisyne leer jy elke dag iets nuuts, en elke blok bied ‘n nuwe, unieke uitdaging. Ondanks die uitdagings, het harde werk en die ondersteuning van uitstekende dosente die pad tot dusver aansienlik vergemaklik.
Buiten my studies geniet ek dit om gholf te speel en tyd saam met vriende en familie deur te bring.
My planne vir die toekoms is om te spesialiseer in interne geneeskunde en daarna ‘n loopbaan as Internis te volg. Ek vind die breë omvang van dié veld interessant.