
Ek is 21, ‘n trotse inwoner van die manskoshuis Patria en besig met my finale jaar in elektromeganiese ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit.
Dis lekker om student te wees en ek geniet die koshuislewe, en veral ook die Varsity Cup-rugby. Maar die afgelope drie en 'n half jaar was nie net pret nie. Die aanvanklike aanpassing op my eie voete te moet staan en die ongelooflike pas en volume van die akademie het my vinnig op 'n plek gebring waar ek wou opskop. Die druk was net te veel en ek het onder ongelooflike spanning gelei.
Dit is waar God ingegryp het. 'n Oom in die kerk het my die eenvoudige raad gegee om die uitkoms in God se hande te los. Ek het presies dit gedoen en die Here daagliks vir wysheid begin vra sodat ek elke dag my deel kon doen. Die uitkoms (eksamenuitslae)het ek aan Hom gegee. En wat n verligting was dit nie!
Sou ek dop, dan weet ek ingenieurswese is nie vir my nie, want ek het gedoen wat God van my verwag (dissipline en harde werk, waarmee God my ook gehelp het) terwyl die uitkoms in Sy hande is.
Die spanning het verdwyn en ek kon net rustig en met bonatuurlike vrede my studies dag vir dag aanpak. Ek het toe nie gedruip nie en hier staan ek drie jaar later besig met my finale jaar met dieselfde bonatuurlike rustigheid en vrede wat my deur my studies dra. En dit alles is te danke aan God.
Ek wil ook die NHS bedank vir die finansiële ondersteuning, wat my studies tot nou moontlik gemaak het. Dit is 'n voorreg om te kan studeer en sonder instansies soos die NHS sal dit vir menige jong mens nie moontlik wees nie.