NHS
Terug na Suksesverhale

Merietetoekenning

Chris de Wit

Chris de Wit

Ek het grootgeword in Riversdal en Stilbaai in die Wes-Kaap, naby die see. Van jongs af was diens aan mense vir my belangrik en ek was in Desembervakansies betrokke by SA Lifesaving as menseredder, ná skoolure by die Nasionale Seereddingsinstituut van Suid-Afrika (NSRI) as vrywillige bemanningslid, asook by die noodhulp van skool- en klubsport. Ek was ook ’n Presidentsverkenner by die Voortrekkers.

Ná matriek het ek ’n graad in Nood- mediese behandeling aan die Nelson Mandela Universiteit in Gqeberha gaan studeer. Dit is ook daar waar ek my vrou ontmoet het. Ná my graad van vier jaar, wat ek met ’n gemiddeld van 75% geslaag het, het ek vir ’n kort tydjie by ’n private nooddiensmaatskappy in Suid-Afrika gewerk voordat ek oorsee kontrakwerk gaan doen het.

Toe ek terugkom, is ek en my vrou getroud en het na Johannesburg verhuis waar ek by Rocket Air Ambulance op helikopters begin werk het. Ons werk het behels dat ons kritiek siek pasiënte regoor Suid-Afrika stabiliseer en vervoer.

Nie lank nadat ons getroud is nie, het ons uitgevind my vrou is swanger met ons dogtertjie. Dit was in daardie tyd dat ek besluit het om by al tien universiteite in Suid-Afrika wat medies aanbied, aansoek te doen. Van al die universiteite was Kovsies die enigste een wat gekom het met ’n positiewe antwoord. En ná 13 maande by Rocket Air Ambulance het ons sak en pak Bloemfontein toe getrek.

Om op 27-jarige ouderdom – en met ’n pasgebore baba by die huis in ’n stad waar ons niemand geken het nie – weer saam met 19-jariges in ’n klas te sit met ’n geweldige hoeveelheid leerwerk, was soms uitdagend, maar ek het deurgedruk.

Ons is ongelooflik dankbaar vir die NHS, wat die lening aan my toegestaan het en jaarliks hernu. Dit maak die finansiële las aansienlik ligter en gee vir my die geleentheid om my droom na te jaag.

Omdat soveel mense in my belê en my ondersteun, voel ek dit is my verantwoordelikheid om tussen my tydelike werksgeleenthede deur alles te gee vir dit wat vir my die belangrikste is: my verhouding met ons almagtige God, vir wie alles moontlik is; my verhouding met my vrou, wat my pilaar is; my rol as pa vir ons dogtertjie, wat nou 18 maande oud is; en natuurlik my studies.

Ek wil nie net ’n dokter wees nie – ek wil ’n uitstekende dokter wees wat mense werklik help en wat ook ’n volhoubare bydrae kan maak om sisteme en gesondheidsorg beter te maak vir almal.

Terug na Suksesverhale