NHS
Terug na Suksesverhale

Merietetoekenning

Catha Holz-Leite

Catha Holz-Leite

Tydens my studies het ek voortdurend na akademiese uitnemendheid gestreef. Dit het vrugte afgewerp en in 2025 is ek vereer met die Dr. W. Grundill Wisseltrofee vir die Beste Fisioterapiestudent (tweede jaar) in 2024, gevolg deur die HiTech Therapy-prys vir die beste Kliniese Fisioterapiestudent (derde jaar) in 2025. Dié prestasies weerspieël my toewyding aan sowel teoretiese kennis as kliniese praktyk, en ek glo dit alles was net moontlik met God aan my sy.

Ek beskou dit as ’n voorreg om deel te wees van ’n studierigting waar die leerkurwe steil is en wat my voortdurend uitdaag om te groei. Ek is ook dankbaar vir die ondersteuning en aanmoediging van my ouers en ander familie, vriende en medestudente wat my deurentyd verras en inspireer.

Buiten die akademie, geniet ek dit om tyd in die buitelug deur te bring, veral om te hengel en saam my kêrel en te stap. Dit help my om balans en veerkragtigheid te behou. My passie vir fisioterapie lê daarin om pasiënte te help om hul onafhanklikheid te herwin en hul lewensgehalte te verbeter.

In die toekoms wil ek graag in ’n hospitaalomgewing werk waar ek my kliniese vaardighede verder kan ontwikkel en ’n betekenisvolle bydrae tot pasiëntsorg kan lewer.

Terug na Suksesverhale