NHS
Terug na Suksesverhale

Merietetoekenning

Carla Bouwer

Carla Bouwer

Ek is ‘n derdejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, waar ek B Com Bedryfsielkunde met arbeidsverhoudinge studeer, met die hoop om in my honneurs- en meestersjare te spesialiseer in kliniese sielkunde.

As tiener was ek baie onseker oor wat ek met my lewe moet doen. Ek het ingeskryf vir bedryfsielkunde omdat ek as jong meisie gedroom het oor die prentjie van ‘n suksesvolle sakevrou wat vir groot organisasies werk.

Die prentjie van my ideale loopbaan het egter al in my eerste jaar verander. Ek weet nou ek wil steeds met mense werk, maar op ‘n baie meer persoonlike vlak. Daarom het ek besluit om kliniese sielkunde te studeer sodat ek ander kan help met emosionele probleme soos depressie, angs, spanning en ander krisisse wat hulle kan ervaar. Ek wil spesifiek by jong mense en hoërskoolkinders betrokke raak omdat dit ‘n baie onsekere en onstabiele tyd in 'n mens se lewe is.

Ek skryf gereeld gedigte, wat ek deel met vriende en familie op sosiale media, en ek hou van lees, want ek beskou dit as ‘n vorm van ontsnapping aan die stressors in die lewe. Verder het ek ook ‘n passie vir kuns. Ek skilder, teken, dans en sing as ‘n vorm van ontspanning en omdat ek dit baie geniet.

As iemand wat baie akademies ingestel en vasbeslote is, hou ek daarvan om te presteer en om nuwe goed te leer.

Ek wil eendag ‘n verskil maak. En al kan ek net een mens help deur wat ek doen, sal dit meer as genoeg wees vir my.

Terug na Suksesverhale