NHS
Terug na Ander Nuus

11 Junie 2026 · deur Wilma de Bruin

NHS-direkteur Ulrich Joubert vir sesde keer vereer as Ekonoom van die Jaar

Om te midde van ongekende onsekerheid in finansiële markte die stand van die Suid-Afrikaanse ekonomie op grond van ’n aantal kernaanwysers in die kol te voorspel, wil gedoen wees. Om dié prestasie boonop vir die sesde keer te behaal, sit beslis nie in enige man se broek nie!

Dít is presies wat Ulrich Joubert, onafhanklike ekonoom en direksielid van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds (NHS) vermag het toe hy op 19 Junie as mede-wenner van die Buro van Marknavorsing (Edms) Bpk (BMR) en Unisa bekroon is. Hy deel vanjaar dié gesogte toekenning met dr. Johannes Jordaan, hoofekonoom en besturende direkteur van Economic Modelling Solutions.

Joubert is die enigste ekonoom wat Beeld (Media24) se Ekonoom van die Jaar-kompetisie vier keer gewen het. Sedert dié gesogte kompetisie deur BMR/Unisa aangebied word, het hy twee keer met die louere weggestap.

Joubert skryf sy sonderlinge prestasie grootliks toe aan genade. “Ek dink ek het oor baie jare báie genade ontvang. Terselfdertyd dwing die kompetisie mens om aan die gang en op die hoogte van sake te bly. Dit is dan seker ook goed vir die kop se gesondheid,” skerts hy.

Dié Kapenaar, wat op Hermanus woon, dien die afgelope 21 jaar in die NHS-direksie. Sy loopbaan het hom deur die staatsdiens, staatskorporasies en banksektor geneem. Van 1989 tot Maart 2006 het hy hom onderskei as groepekonoom van Transnet. In April 2006 het hy hom by Kruger International aangesluit waar hy tot in Mei 2012 as ekonoom gewerk het. Sedert April 2009 is hy ook betrokke by die Buro vir Ekonomiese Navosing aan die Universiteit van Stellenbosch. Tans is hy ’n onafhanklike ekonoom, en was ’n gewese hoofbestuurlid van die AHI, voorsitter van die Johannesburgse Afrikaanse Sakekamer en die ekonomiese advieskomitee van die AHI.

Meesterlik

Luidens ’n nuusverklaring, het die twee wenners meesterlik daarin geslaag om die agt aanwysers in ’n wispelturige sakeomgewing vooruit te skat. “2024 is gekenmerk deur ontwrigting aan die maatskaplike, ekonomiese en politieke front, wat dit baie uitdagend gemaak het om noukeurige en betroubare ekonomiese vooruitskattings te maak.”

In sy toespraak by die bekroningsgeleentheid, het prof. Deon Tustin, uitvoerende hoof van die BMR, daarop gewys dat die Ekonoom van die Jaar nie net die kuns en vaardigheid van ekonomiese voorspelling vier nie, maar ook die onmisbare rol van ekonome in die vorming van Suid-Afrika se ekonomiese toekoms.

“Vandag vereer ons diegene wat dit waag om te doen wat net enkele mense kan vermag – om die ekonomiese ‘gety’ van ons nasie met vertroue en vaardigheid te voorspel. Ofskoon dié toekennings mededingend van aard is, gaan dit nie net om getalle en resultate nie.”

Wêreldwye geopolitieke en ekonomiese verskuiwings het ’n beduidende impak op plaaslike ekonomieë in soverre dit ’n impak het op landsburgers, maatskappye, die akademie én ondernemers, en oplaas ’n nuwe geslag ekonomiese leiers kweek.

“Daarbenewens verskaf die vooruitskattings ’n betroubare kompas vir individue en beleggers om SA se ekonomiese landskap te navigeer. Die onmisbare inset van hul akkurate vooruitskattings verskaf ook tydige inligting vir beplanning en veerkragtigheid. Hul vernuf dryf beter vooruitskatting ten bate van SA se ekonomiese beleidsraamwerk met die oog op volhoubare groei en ’n voorspoediger nasie,” het hy gesê.