2 Augustus 2026 · deur Magda
Realiteite van 'n wêreld waarin intelligensie nie meer net menslik is
Hoewel daar al so vroeg as in 1956 oor kunsmatige intelligensie (KI) gepraat word, het dit wat destyds nog net gedagtes oor die toekoms was, nou werklikheid geword. En die mensdom moet taamlik vinnig begin aanpas by ‘n nuwe realiteit waar intelligensie nie langer uitsluitend ‘n mens-vermoë is nie.
Dié nuwe realiteit en die veranderinge wat dit gaan meebring op veral die gebied van onderwys en latere indiensneming, was een van die onderwerpe wat bespreek is op ‘n direksievergadering van die Noordelike Helpmekaarstudiefonds (NHS) in Johannesburg.
Prof. Fika van Rensburg, direksielid en voormalige adjunkvisekanselier van die Potch-kampus asook adjunkhoof van die Noordwes-Universiteit, het daarop gewys dat die KI-era nie net universiteite se vermoë gaan toets om nuwe tegnologie aan te neem nie, maar universiteite gaan veral gemeet word aan die mate waarin hulle hul doel sal kan herdefinieer in dié uitdagende tyd.
Dit gaan hier oor die universiteit se vermoë om praktiese wysheid te kweek en menswees te laat floreer. Dít is wat uiteindelik die deurslag sal gee vir die voortbestaan van die universiteit.
“Universiteite wat in die era van KI floreer, sal nie dié wees wat KI eerste en die beste benut nie, maar dié wat verstaan watter vorm van menslike oordeel nooit gedelegeer moet word nie.”
Daarom meen hy daar is ’n nuwe vorm van intellektuele rentmeesterskap aan die kom. Dit behels dat universiteite nie net toegerus moet wees om tegnologie-transformasie te bestuur nie, maar veral ook om oordeel te kweek, verantwoordelike samewerking tussen die mens en KI te bevorder en sy studente toe te rus om hul pad deur ‘n wêreld van toenemende kunsmatige intelligensie te navigeer.
Juis daarom sal residensiële universiteite met hul georganiseerde kampuslewe al hoe belangriker word. Dit is daardie “verborge kurrikulum” in ‘n wêreld van intellektuele gesprekke en kampusaktiwiteite wat die deurslag sal gee. “Dít is iets wat KI nooit sal kan oorneem of namaak nie.”
Tog dink hy dat universiteite soos ons dit vandag ken, baie gaan verander in die volgende dekade of wat.
Kampusse en die kampuslewe sal voortbestaan, maar daar sal ‘n sterker fokus wees op hibriede programme, oftewel ‘n kombinasie van aanlyn en kontakonderrig. Studente sal moontlik sekere onderdele van modules aanlyn doen en ander weer juis op die kampus. Aanlyn programme sal toenemend ingespan word, maar dit sal nooit alleen die verlangde uitkoms kan bereik nie.
Wat finansiering van tersiêre studie betref, het hy gesê daar is reeds in Suid-Afrika en oor die wêreld heen ‘n groot klem op die sogenaamde STEM-programme (science, technology, engineering and mathematics) en dit sal ook in Suid-Afrika toenemend die programme word waarheen die geld sal gaan. Universiteite word reeds deur die staat se subsidieformule gedwing om ‘n hoër presentasie studente vir STEM-programme te aanvaar en dus minder vir die ander akdademiese programme.
In Suid-Afrika is daar ook ‘n groot probleem met die finansiering van universiteite van staatskant af en dit is duidelik dat staatsubsidies aan universiteite al hoe meer ‘n bron word om tekorte van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) te finansier. Uiteindelik lei dié bose kringloop daartoe dat universiteite klsasgelde al hoe meer moet verhoog om om finansieel volhoubaar te wees. Dit kan veroorsaak dat minder studente kan gaan studeer.
Van die droom dat NSFAS die “verlore middelgroep” kan insluit, het daar uiteindelik niks oorgebly nie. Nog minder sal NSFAS-finansiering na nagraadse programme uitgebrei kan word, het hy gesê.
Duisende studente maak tans staat op die NSFAS om te kan studeer, maar dié model kan nie veel langer in sy huidige formaat voortbestaan nie. Van Rensburg meen dit is nou reeds duidelik dat dit óf sal inplof en ‘n nuwe skema daaruit sal groei óf dat dit sal verander in ‘n leningskema waarby kommersiële banke dalk ingetrek kan word – met of sonder waarborge van die staat se kant.
Prof. Jannie Rossouw, direksielid van die NHS en ere-professor aan die Bestuurskool van die Universiteit van die Witwatersrand (WBS), deel die kommer oor finansiering van tersiêre onderwys en het gewys op die realiteit dat veral studie aan universiteite al hoe duurder gaan word.
Hy het Suid-Afrika vergelyk met ‘n ou motor met tekens van roes en gesê die roes wat jy aan die kar sien, is maar ‘n derde van die roes wat werklik daar is en wat vorentoe die groot skade gaan veroorsaak. Die kar ry nog, maar…
“Net so is dit met Suid-Afrika. Die sigbare skade is net ‘n klein deeltjie van dit wat eintlik reeds daar is, maar nog verborge is. Die land funksioneer, maar volgens alle aanduidings gaan die ekonomie in die volgende dekade nie met meer as 1 % groei nie, terwyl die bevolkingsgroei meer as dit is. Werkloosheid gaan dus toeneem en inflasie gaan bly styg.
“Die pryse wat ons vandag vir goed gaan betaal, sal 10 jaar verder ten minste 35% meer wees. Dit geld ook die koste om ‘n student deur universiteit te kry,” het hy gesê.
Oor die invloed van KI op die samelewing, is hy oortuig daarvan dat ons die era ingaan waarin ‘n oorpak belangriker is as ‘n pak klere. KI sal tot ‘n groot mate van die werk kan oorneem wat in kantore gedoen word, maar nie daardie werk wat gedoen word in ‘n oorpak met ‘n stuk gereedskap in die hand nie.
Hy meen dit is ook belangrik om in gedagte te hou dat dit veral die middelgroep in ‘n bepaalde onderneming is wat in gevaar is weens die invloed van KI.
Daar sal altyd plek wees vir die werkerbye op die onderste trappies van die beroep en ook vir die senior mense wat die strategiese beplanning moet doen en die besluite moet neem. Maar die groot uitdaging van die volgende dekade en verder is om daardie brug te vind tussen die onderste groep en die visionêre seniors, het hy gesê.
Albei sprekers was dit eens dat baie van die probleme met onderwys in die land net reggestel kan word deur te begin by die heel begin - wanneer die kinders begin skoolgaan. Dit is waar die grondslag gelê moet word.
Daarom meen albei dat daar veral in Suid-Afrika ‘n groot belegging gemaak moet word in die opleiding van goeie onderwysers, want as die grondslag daar is, sal die res volg.