NHS
Terug na Ander Nuus

11 Junie 2026 · deur Wilma de Bruin

Meer tegniese kolleges, minder universiteite

Dawie Roodt

Suid-Afrika behoort talle van sy universiteite te sluit en te vervang deur tegniese kolleges wat fokus op vaardigheidsontwikkeling om te verseker dat meer gegradueerdes werk kan kry.

Volgens Efficient Group se hoofekonoom, Dawie Roodt, in ’n onlangse berig in Daily Investor, moet universiteite hulle toespits op kursusse in bepaalde vakgebiede waar hulle die nodige kundigheid het soos medisyne, rekeningkunde, ekonomie, ingenieurswese en “harde” wetenskappe. Dit is ook die gebiede waarin navorsing op universiteit gedoen moet word, pleks van om meer graadkursusse aan te bied wat in ’n moderne ekonomie grootliks irrelevant is.

Volgens Roodt mors die staat geld op die finansiering van grade wat lei tot werklose gegradueerdes aangesien hul vaardighede nie strook met dít wat die arbeidsmark soek nie.

“Daar is baie vaardighede waarin universiteite onderrig gee wat wel geskik is vir ’n moderne ekonomie, soos medies, ingenieurswese, ekonomie en talle ander dissiplines. Maar ongelukkig is daar ook talle ander graadkursusse wat aangebied word wat nie van nut is in ’n moderne ekonomie nie. Sodoende word beduidende hulpbronne aan universiteite bestee vir grade wat eenvoudig nie relevant is nie,” het Roodt aan Daily Investor gesê.

Die regering bestee baie geld aan die onderwys, met die veronderstelling dat R509 miljard aan opleiding en kultuur bestee word. Dit behels R332 miljard aan basiese onderwys, R55 miljard aan die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFAS) en R48 miljard wat regstreeks aan universiteite betaal word.

Roodt verduidelik dat dit onwaar is dat elke leerder/student oor ’n universiteitsgraad moet beskik, ongeag wat dit is. So word miljarde rand aan die opleiding in irrelevante graadkursuse bestee, terwyl daar ’n opvallende tekort is aan vaardighede in ander ekonomiese sektore.

“Trouens, net sowat 10% van die bevolking moet universiteit toe gaan en dit is allerbelangrik dat die instellings gegradueerdes van hoë gehalte lewer. Daar is so baie grade beskikbaar en studente kies hulle net omdat hulle ’n graad wil hê, ongeag wat dit behels.”

Suid-Afrika het 19 openbare universiteite en sewe universiteite van tegnologie, wat altesaam 26 instellings in staatsbesit verteenwoordig. Baie van dié instellings word swak bestuur.

“Die gehalte van Suid-Afrika se universiteite het die afgelope jare ook beduidend verswak, wat meegebring het dat hulle posisie op die internasionale ranglys gedaal het.

“Ons universiteite bied steeds onderwys van goeie gehalte en vaardigheidsontwikeling, maar hulle gaan agteruit en bied dikwels ander goed aan waarvoor daar geen aanvraag in die huidige ekonomie is nie.”

Volgens Roodt kan sowat die helfte van SA se universiteite toegemaak word, sonder veel impak op die land se ekonomie. Die oplossing lê in die vervanging van dié universiteite met tegniese en beroepsgerigte opleidingskolleges (Technical and Vocational Education and Training Colleges). So word almal ’n guns bewys.

Dit moet gepaard gaan met die uitbreiding van sogenaamde Technikons in die land SA om onderrig in nywerheidsrelevante vaardighede aan te bied.

Volgens Roodt sal dit help om die kritieke vaardigheidstekorte in die SA ekonomie te verlig. Daarbenewens is dit ook ’n veel goedkoper en doeltreffender manier om te verseker dat ’n toenemende aantal mense werk kan kry.

Dié soort vaardighede, met inbegrip van bouwerk, loodgieterswerk, houtwerk en elektriese vaardighede, is oor die hoof gesien ten gunste van die prestige van ’n universiteitsgraad. Dít ten spyte daarvan dat dit in veel groter aanvraag is as ’n hele rits universiteitsgrade.

Roodt se kommentaar beaam dié van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD)

Volgens die organisasie word SA se arbeidsmark gekenmerk deur volgehoue verkeerde parings tussen werkers se kwalifikasies, studiegebiede en beskikbare werksgeleenthede. Dít plaas die kollig op die tekort aan vaardigede en semi-vaardige werkers in die land, wat langtermyngroei oplaas striem.

Voorts weerspieël dit die ontoereikendheid in tegniese en beroepsgerigte onderwys en opleidingsprogramme.

Die OECD vra ook vir meer onderwysers en universiteitsdosente met praktiese nywerheidservaring, asook meer internskappe om studente beter voor te berei vir die eise van die arbeidsmark.

Vir die oorspronklike artikel, volg dié skakel: https://dailyinvestor.com/south-africa/104360/south-africa-should-close-many-of-its-universities/?source=newsletter