11 Junie 2026 · deur Wilma de Bruin
Kunsmatige Intelligensie word onlosmaaklik deel van onderwys en opleiding
Dit staan soos ’n paal bo water: Kunsmatige Intelligensie (KI) word toenemend ’n onlosmaaklik deel van ons lewe. Behalwe dat dié tegnologiese wending ’n kopskuif van leerders, studente, onderwysers én dosente verg, word vrae oor KI se impak op ons samelewing en ons waardes al hoe meer relevant.
In Suid-Afrika, waar ons 'n diverse samelewing het, is dit eweneens belangrik om te verseker dat hierdie stelsels nie diskriminerend is nie en dat dit die regte van alle individue respekteer.
Hieronder beantwoord dr. Marga Botha, senior lektor: Bybelkunde, Filosofie en Lewensvaardighede aan Aros Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies, ’n paar vrae:
V: Die toenemende gebruik van KI op tersiêre vlak in Suid-Afrika is 'n belangrike ontwikkeling wat 'n groot impak het op hoër onderwys en navorsing. Wat is Aros se amptelike standpunt oor KI se rol in onderwys en navorsing?
A: Aros erken dat Kunsmatige Intelligensie (KI) ’n onomkeerbare en invloedryke deel van die toekoms van hoër onderwys en navorsing is. Die instelling sien KI as ’n ondersteunende hulpmiddel, nie ’n plaasvervanger vir akademiese integriteit, kritiese denke en Christelik-gegronde onderrig nie.
Aros glo dat KI binne die raamwerk van Bybelse waardes, akademiese eerlikheid en verantwoordelikheid gebruik word. KI mag leer en navorsing fasiliteer deur byvoorbeeld idees te genereer, data te verwerk en hulp te bied met taal- of stylverbetering, maar mag nie die student of dosent se eie intellektuele en kreatiewe werk vervang nie.
Aros wil studente en personeel toerus om KI effektief en verantwoordelik te gebruik, insluitend die aanleer van vaardighede om KI-uitsette krities te evalueer.
V: Watter rol speel KI op die kampus?
A: KI word reeds op verskeie maniere ingespan: Studente gebruik KI-hulpmiddels vir taalversorging, om idees te genereer en as hulpmiddel by navorsingsbeplanning, binne die perke van die KI-riglyne. Verder word KI deur personeel gebruik met betrekking tot navorsing byvoorbeeld om literatuuroorsigte vinniger saam te stel, data te analiseer en komplekse konsepte visueel of struktureel uit te beeld. KI dien ook as hulpmiddel om assesserings-idees te ontwikkel en onderrigstrategieë te verfyn.
Verder bied Aros interne sessies aan om personeel en studente op te lei in etiese KI-gebruik.
V: Wat, na u mening, is die grootste voordele van KI waarby studente toenemend kan baat vind?
A: Na my mening is daar verskeie voordele van KI waarby studente op tersiêre vlak toenemend kan baat vind, mits dit eties en doelgerig gebruik word.
Eerstens kan KI leerinhoud en tempo aanpas volgens ’n student se unieke behoeftes, leerstyl en vordering. Dit help studente om in hul eie tyd, op hul eie manier, en met fokus op hul swak- of sterkpunte te leer.
Tweedens, deur interaktiewe hulpmiddels, visuele verduidelikings en onmiddellike terugvoer kan KI leerinhoud meer verstaanbaar en toeganklik maak. Studente kan komplekse konsepte vinniger begryp en beter toepas.
Derdens kan KI groot hoeveelhede inligting in sekondes verwerk en opsom, wat studente help om vinnig bronne, definisies en verduidelikings te kry sonder om ure lank te soek.
Vierdens, kan KI studente help met taalversorging, woordeskatverbetering en struktuuraanpassings, wat uiteindelik akademiese selfvertroue verhoog. Alhoewel KI antwoorde verskaf, dwing dit studente (indien reg gebruik) om antwoorde te evalueer, te vergelyk en te bevraagteken, wat hul kritiese en analitiese denke slyp.
En laastens kan KI sekere take outomatiseer wat studente toelaat om hul tyd beter te benut vir kreatiewe en hoër-orde leeraktiwiteite.
V: Die gebruik van KI bring egter ook etiese vrae en uitdagings mee, soos die risiko van vooroordeel in algoritmes en die behoefte aan verantwoordelikheid in die ontwikkeling en gebruik van KI-tegnologieë. Hoe word student én dosente ten opsigte hiervan voorberei/opgelei?
A: By Aros word sowel studente as dosente deeglik voorberei om die etiese vrae en uitdagings waarmee KI gepaard gaan, verantwoordelik te hanteer. Die instelling beskik oor formele riglyne wat duidelik uiteensit wat aanvaarbare en onaanvaarbare gebruik is, met ’n sterk klem op akademiese integriteit en die noodsaaklikheid om eie werk te lewer. Opleidingsessies en werkswinkels word vir dosente en studente aangebied. Vir dosente fokus dit op die verantwoordelike integrasie van KI in onderrig sonder om leeruitkomste of assesseringsintegriteit te ondermyn, asook op die kritiese evaluering van KI-uitsette vir akkuraatheid en moontlike vooroordeel. Studente word op hul beurt blootgestel aan die beperkings van KI, insluitend hoe algoritmiese vooroordeel ontstaan en watter gevare dit vir navorsing en besluitneming kan inhou. Hierdie bewustheid word versterk deur die integrasie van KI-etiek in die kurrikulum, veral in modules oor navorsingsmetodologie, onderrigmetodes en professionele praktyk. As ’n Christelike hoëronderwysinstelling plaas Aros KI-gebruik binne ’n waarderaamwerk van waarheid, regverdigheid, respek vir mense en verantwoordelike rentmeesterskap van tegnologie. In praktiese assesserings word studente aangemoedig om nie net KI te gebruik nie, maar ook om te verduidelik hoe hulle dit gebruik het, watter beperkings hulle geïdentifiseer het, en hoe hulle die inligting geverifieer het. Op hierdie manier word ’n gesonde, eties-verantwoorde KI-gebruik gekweek wat beide akademiese en morele standaarde handhaaf.
V: Hoe sien u die toekoms van KI in die onderwys ?
A: Ek sien die toekoms van KI in die onderwys as ’n onlosmaaklike deel van hoe leer en onderrig wêreldwyd gaan ontwikkel, mits dit verantwoordelik en doelgerig gebruik word. KI gaan waarskynlik ’n toenemende rol speel in verpersoonlike leer, waar studente se individuele behoeftes, leerstyle en tempo’s in ag geneem word om unieke studiemetodes te skep. Dit kan ook administratiewe prosesse vergemaklik en vir dosente meer tyd gun om te fokus op kreatiewe, mensgesentreerde onderrig.
Ek glo egter dat die toekoms van KI in die onderwys nie net deur tegnologie self bepaal moet word nie, maar deur etiese raamwerke en waardes wat seker maak dat tegnologie dien as ’n hulpmiddel, nie ’n plaasvervanger vir menslike oordeel, kritiese denke en morele verantwoordelikheid nie. Instellings soos Aros kan hierin ’n leidende rol speel deur ’n balans te vind tussen tegnologiese innovasie en ’n Christelik-gegronde visie vir opvoeding.
As dit reg bestuur word, sien ek ’n toekoms waar KI help om onderrig meer inklusief, toeganklik en doeltreffend te maak, en waar dit studente toerus met die kritiese en etiese denkvaardighede wat hulle nodig het om as verantwoordelike burgers en leiers in ’n tegnologiegedrewe wêreld op te tree.
V: Gee ’n kort oorsig oor Aros en sy rol/missie/visie in die Suid-Afrikaanse onderwyslandskap.
A: Aros is gemik daarop om onderwysers van hoë gehalte op te lei wat nie net akademies bekwaam is nie, maar ook diep gewortel is in Bybelse waardes. Die instelling se opleiding is gegrond op ’n Reformatoriese geloofsoortuiging, soos bely in die Drie Formuliere van Eenheid, en kombineer akademiese uitnemendheid met ’n duidelike roeping tot diens in die onderwys.
Aros se missie is om studente toe te rus met die kennis, vaardighede en karakter om ’n betekenisvolle verskil in die Suid-Afrikaanse onderwyslandskap te maak. Die visie is om onderwysers te vorm wat nie net leerinhoud oordra nie, maar ook lewens beïnvloed, gemeenskappe versterk en Christelike beginsels uitleef. Aros skep ’n toeganklike, ondersteunende leeromgewing waarin studente akademies kan groei, praktiese ervaring as onderwysers kan opdoen en so word hul voorberei om ’n positiewe en blywende impak op skole en die breër samelewing te hê.