27 Oktober 2026
Innoverende aanlyn kursus om jong meisies toe te rus vir die lewe as volwassenes
deur Wilma de Bruin

Op 35 het Marlie Coetzee (MBA NWU), ondernemende entrepreneur en ma van twee dogters, besluit dis tyd vir ʼn nuwe uitdaging. Nog voor dié jaar se blus uit is, gaan haar innoverende aanlyn kursus, LivvSky, sy buiging maak.
Dít behels ʼn praktiese en omvattende program vir meisies van 15 tot 18 jaar om hulle voor te berei vir die uitdagings van die lewe as volwassenes en touwys te maak oor onder meer geldbestuur, loopbaankeuses en gesonde mense- en werkverhoudings.
“Die doel is nie om die rol van ouers of skole te vervang nie, maar om dit aan te vul. LivvSky wil ʼn gemeenskap bou waar meisies nuuskierig kan wees, by kundiges kan leer en moontlikhede kan ontdek wat hulle nog nie voorheen oorweeg het nie. My einddoel is nie bloot om ’n suksesvolle onderneming te bou nie, maar om ’n betekenisvolle lewe te leef en iets agter te laat wat vir ander mense waarde het.”
Sy vertel hier meer oor haar nuwe projek.
V: Wat het gelei tot jou besluit om LivvSky op die been te bring? Was daar ’n spesifieke oomblik of ervaring wat jou laat besef het daar is ’n groot gaping in finansiële geletterdheid onder tienermeisies?
A: LivvSky het eintlik uit ’n baie eenvoudige vraag ontstaan. Ons eersteling het vanjaar met gr. 1 begin, en dit het my aan die dink gesit: Ons stuur ons kinders vir 12 jaar skool toe, ons belê in hul opvoeding en ons as ouers doen alles moontlik om hulle die beste geleenthede te gee. Maar hoe goed berei ons hulle werklik voor op die lewe ná skool? En hier praat ek vanuit my ervaring, want al het my ouers alles moontlik gedoen om my voor te berei vir die lewe ná skool, was ek steeds nie werklik voorbereid op wat die grootmenswêreld van my gaan verwag nie. Nie dat mens ooit 100% voorbereid kan wees nie, want die lewe kan jou ’n paar dwarsklappe gee. Maar ek glo as 'n mens sekere basiese beginsels gevestig het, sal jy daardie dwarsklappe beter kan verwerk.
As sakevrou en ma van twee dogters het ek toenemend begin nadink oor die verskil tussen akademiese prestasie en lewensgereedheid. ’n Meisie kan met uitstekende punte matrikuleer, maar steeds onseker wees oor hoe om ’n begroting op te stel, haar eerste salaris te bestuur, ’n loopbaan te kies, die regte lewensmaat te kies of belangrike besluite onafhanklik te neem.
Ek het ook teruggedink aan my eie tienerjare en al die dinge wat ek graag op 16 of 17 sou wou weet. Nie net oor geld nie, maar ook oor verhoudings, selfvertroue, entrepreneurskap, oorsee reis, en hoe om mislukkings te oorkom en die geleenthede wat hul voordoen, aan te gryp. Jy weet, daardie gedagtes wat jy soms uit onkunde dink jou ma nie sal verstaan nie en wat jy nie met jou beste vriendin kan bespreek nie.
Dit was dus nie een dramatiese gebeurtenis wat tot LivvSky gelei het nie, maar eerder die besef dat daar ’n groot gaping tussen skoolopleiding en die werklikheid van die grootmenslewe bestaan. En ek het dit persoonlik self beleef – weer eens nie omdat ek of my ouers nie ons deel gedoen het nie, maar bloot net oor die teenstrydigheid tussen skool en die grootmenslewe.
Ek wou ’n platform skep waar jong meisies toegang kry tot die kennis, ervare mense en insiggewende gesprekke wat ek wens ek op daardie ouderdom gehad het.
V: Wat is die hoofdoel van LivvSky se kursus? Brei ook uit oor die visie, missie, filosofie en waardes.
A: LivvSky se hoofdoel is om meisies te help om die oorgang van adolessensie na volwassenheid met meer selfvertroue, praktiese kennis en onafhanklike denke aan te pak.
Ons eerste program, LivvSky Future Ready, is ’n gestruktureerde ervaring van 14 weke, wat spesifiek vir hoërskoolmeisies tussen 15 en 18 jaar ontwikkel word.
Die program fokus op verskeie belangrike aspekte van die lewe, waaronder finansiële geletterdheid, loopbaanontwikkeling, entrepreneurskap, kommunikasie, selfvertroue, verhoudings, persoonlike grense, besluitneming, veerkragtigheid en onafhanklikheid.
Ons wil byvoorbeeld hê ’n meisie moet weet hoe om met haar geld te werk, maar ook hoe om ’n CV op te stel, vir ’n werksonderhoud voor te berei, professionele verhoudings te bou, portuurgroepdruk te verwerk en haar eie sterk punte te identifiseer.
Wat LivvSky uniek maak, is dat ons nie bloot inligting wil oordra nie. Ons wil meisies blootstel aan ervare beroepsmense, entrepreneurs en kundiges wat praktiese kennis en lewenservaring met hulle kan deel. Dit wat hulle moet weet vir elke dag se besluite wat geneem moet word.
My filosofie is eenvoudig: Ek wil nie vir jong vroue voorskryf watter keuses hulle moet maak nie. Ek wil wel seker maak hulle het genoeg kennis, selfvertroue en perspektief om daardie keuses self te kan maak.
Ons waardes sluit nuuskierigheid, onafhanklikheid, integriteit, verantwoordelikheid, veerkragtigheid en persoonlike groei in.
Uiteindelik wil ons hê dat elke LivvSky-meisie beter toegerus moet wees om haar eie toekoms met verantwoordelikheid en selfvertroue te vorm. En om dit te geniet!
V: Waarom is die ouderdomsgroep 15–18 die ideale tyd om oor geld te begin leer? Wat maak hierdie jare so kritiek?
A: Ek dink die tienerjare is ’n besonder belangrike tydperk omdat jongmense dan begin om groter onafhanklikheid te ontwikkel, maar nog nie noodwendig al die verantwoordelikhede van volwassenheid dra nie.
Dit bied ’n uitstekende geleentheid om goeie gewoontes aan te leer voordat duur finansiële foute gemaak word.
’n Meisie wat reeds op 16 verstaan hoe rente, skuld, spaaropsies en begrotings werk, betree die grootmenswêreld met ’n groot voorsprong bo die ander meisies wat dit nog nie verstaan, beoefen en bemeester het nie.
Ek dink ook ons moet wegbeweeg van die idee dat kinders eers van geld moet leer wanneer hulle hul eerste salaris verdien. Ek verstaan ouers wil hul kinders beskerm teen kommer oor finansies, en dit is ook reg so, maar om kinders teen die realiteite te beskerm, is ook nie noodwendig die regte oplossing nie. Want dan sit ons met ʼn situasie waar ons verwag kinders moet weet wat is die regte besluite is met betrekking tot finansies, maar ons as ouers het nog nie vir hulle die beginsels geleer om daardie besluite te kan neem nie.
Teen daardie tyd het hulle moontlik reeds sekere gewoontes ontwikkel wat moeilik is om te verander.
Finansiële geletterdheid gaan boonop oor baie meer as net geld. Dit gaan oor selfdissipline, verantwoordelikheid, uitgestelde bevrediging en die vermoë om tussen behoeftes en begeertes te onderskei.
Hoe vroeër ons meisies leer dat geld ’n instrument is waarmee hulle keuses en onafhanklikheid kan skep, hoe beter. En ja, geld kan sekere aspekte van die lewe makliker maak, maar dit waarborg nie ʼn gelukkige lewe nie.
Net ter verduideliking: LivvSky se huidige teikengroep is 15 – 18 jaar, hoewel die beginsels van finansiële opvoeding beslis op alle ouderdomme relevant is.
V: Finansies kan vir tieners droog of intimiderend klink. Hoe benader LivvSky dit sodat dit vars, modern en opwindend is vir vandag se Gen Z-meisies?
A: Ek dink ons maak dikwels die fout om finansies aan jongmense te verduidelik op ’n manier wat vir volwassenes sin maak, maar nie noodwendig vir tieners relevant voel nie.
Ons wil eerder begin by situasies waarmee meisies reeds kan identifiseer.
Byvoorbeeld: Jy kry R1 000 vir jou verjaarsdag. Wat doen jy daarmee? Jy wil ’n nuwe selfoon hê, maar jou huidige een werk nog. Hoe besluit jy of dit ’n goeie aankoop is? Of jy wil graag oorsee gaan, maar dit kos R70 000. Waar kry jy daardie geld? Want kinders moet leer dat pappa en mamma nie altyd daar is om vir alles te betaal nie. Hoeveel gaan jy bydra tot daardie R70 000? Wat gaan jy doen om ekstra geld te verdien? Kan jy spaar?
Dit is die soort praktiese vrae wat finansiële beginsels onmiddellik relevant maak.
Ons wil ook met kundiges gesels wat finansiële konsepte op ’n toeganklike manier kan verduidelik, sonder ingewikkelde terminologie. Die benadering is interaktief. Ons wil hê meisies moet self begrotings opstel, besluite oor denkbeeldige of realistiese finansiële situasies neem en die gevolge van verskillende keuses verstaan.
Die doel is nie om finansies makliker te laat lyk as wat dit is nie, maar om dit verstaanbaar, interessant en toepaslik op hulle eie lewens te maak.
En dit is baie belangrik om ook te onthou dat finansies en besluite oor geld nie in isolasie tot ander lewensgebeurtenisse plaasvind nie. Daarom het LivvSky ʼn baie sterk holistiese benadering wat ons volg, en ons fokus op ses afdelings wat ʼn impak op jou persoonlike finansies het. Ons kyk na al daardie verskillende aspekte want hulle dra by tot jou besluite wat jy neem wat jou finansies beïnvloed.
V: Hoe gaan LivvSky-meisies hulle voorberei vir die finansiële verantwoordelikhede wat met universiteit of kollege gepaard gaan?
A: Ek dink een van die grootste uitdagings wanneer jongmense die huis verlaat, is dat hulle skielik self besluite moet neem oor uitgawes wat hulle ouers voorheen bestuur het.
Skielik moet daar gedink word aan verblyf, kruideniersware, vervoer, handboeke, data, persoonlike uitgawes en soms ook onverwagte noodgevalle. Maar die ouers onderhou nog die kinders terwyl hulle op universiteit is, derhalwe word kinders werklik eers hiervan bewus wanneer hulle die dag moet begin werk.
Ons wil meisies help om reeds voor daardie oorgang te verstaan hoe ’n realistiese begroting werk. Wat is die werklike maandelikse uitgawes wat betaal moet word? Want as hulle dit nou al kan begin leer met R200 sal hulle dit ook kan toepas met R20 000.
Sy moet leer dat ’n begroting nie net ’n lys syfers is nie, maar ’n manier om prioriteite te bepaal.
Ons wil ook die gesprek voer oor finansiële onafhanklikheid, die verantwoordelike gebruik van krediet en skuld en waarom dit belangrik is om vroeg reeds ’n spaargewoonte te ontwikkel.
Die eerste keer wat ’n meisie met haar eie geld begin werk, behoort verkieslik nie die eerste maand te wees wat sy op universiteit is of begin werk nie – die fondasies moet dan reeds gevestig wees.
V: Wat is jou advies oor hoe om goeie skuld van slegte skuld te onderskei?
A: Ek sou eerstens vir ’n jong meisie sê dat nie alle skuld dieselfde is nie, maar dat geen skuld ligtelik aangegaan moet word nie.
’n Studielening kan byvoorbeeld ’n belegging in jou toekomstige verdienvermoë wees, mits jy die koste, rente, terugbetalingsvoorwaardes en moontlike loopbaanvooruitsigte deeglik verstaan.
Maar selfs studieskuld is nie outomaties goeie skuld nie.
Jy moet vra: Wat gaan hierdie kwalifikasie my kos? Hoe waarskynlik is dit dat ek werk sal kry? Wat sal my maandelikse terugbetaling wees? En sal ek dit realisties kan bekostig?
Aan die ander kant is skuld wat aangegaan word om ’n leefstyl te finansier wat jy nie kan bekostig nie, dikwels uiters gevaarlik.
Om klere, luukshede, vakansies of impulsiewe aankope op krediet te koop, kan beteken dat jy lank ná die aanvanklike opgewondenheid steeds daarvoor betaal.
My raad is: Moenie net vra of jy iets op krediet kan koop nie. Vra of jy bereid is om die toekomstige koste daarvan te dra. En dan sal jy gou besef dat die toekomstige koste daarvan nie die moeite werd is nie – vra my, ek het daardie les ook al op ʼn harde manier geleer!
En lees altyd die fynskrif voordat jy enige finansiële ooreenkomste aangaan.
V: Wat is jou raad vir meisies wat meen hulle moet geld bestee wat hulle nie het nie om by die TikTok-leefstyl en sosiale media in te pas?
A: Onsin! Ek dink een van die grootste uitdagings vir vandag se tieners is dat hulle hul alledaagse werklikheid voortdurend met ander mense se hoogtepunte vergelyk.
Op sosiale media sien jy die vakansies, klere, restaurante, motors en perfekte oomblikke. Wat jy nie noodwendig sien nie, is die finansiële werklikheid daaragter.
Ons moet meisies help verstaan dat sosiale media nie ’n betroubare maatstaf van sukses, geluk of finansiële welstand is nie. Dit is nie die lewe nie – die werklike lewe vind nie plaas op selfoonskerms nie.
Ek sou vir ’n jong meisie sê: Jy hoef nie geld te bestee om te bewys dat jy waarde het nie. Ek en my man is beide baie “pro” die “underdog” – wees eerder die “underdog”; die ondergeskikte – want dan het mense soveel meer respek vir jou, want jy verdien dan die sukses – op meriete.
Dit is heeltemal aanvaarbaar om nee te sê vir ’n duur uitstappie, om nie die nuutste handelsmerk te dra nie, of om te besluit dat jy eerder jou geld vir iets belangriker wil spaar.
Ek dink ware selfvertroue wys juis wanneer jy gemaklik genoeg is met jouself om nie elke neiging te hoef volg nie.
Finansiële onafhanklikheid begin dikwels by die vermoë om nee te sê vir dinge wat jy kan koop, maar nie werklik nodig het nie.
8. As ’n matriekmeisie net drie finansiële gewoontes kan saamneem universiteit toe, watter drie moet dit wees?
Ek sou drie gewoontes uitsonder.
Eerstens: Weet waarheen jou geld gaan. Hou rekord van jou inkomste en uitgawes. Jy kan nie verantwoordelik met geld werk as jy nie weet waaraan jy dit bestee nie.
Tweedens: Spaar voordat jy bestee. Al is dit net ’n klein bedrag, ontwikkel die gewoonte om iets opsy te sit sodra jy geld ontvang. Moenie wag om te kyk wat aan die einde van die maand oorbly nie. Groot fout, want niks bly oor aan die einde van die maand nie!
Derdens: Leer om behoeftes van begeertes te onderskei. Jy hoef nie elke aankoop te regverdig nie, maar jy moet verstaan waarom jy iets koop en of dit by jou finansiële prioriteite pas.
As ’n jong vrou hierdie drie gewoontes vroeg aanleer, skep sy ’n baie goeie grondslag vir toekomstige finansiële onafhanklikheid.
V: As jy vandag kon teruggaan na jou eie 18-jarige self, watter geldraad sou jy vir jouself gegee het?
A: Ek sou vir myself gesê het: Begin vroeër om jou geld doelbewus te bestuur, en moenie die waarde van klein, konsekwente finansiële besluite onderskat nie.
Wanneer jy jonk is, dink jy maklik dat jy later genoeg tyd sal hê om te begin spaar, belê of ernstig oor jou finansiële toekoms te dink.
Maar tyd is juis een van die grootste voordele wat jy as jongmens het.
Ek sou ook vir myself gesê het om nie bang te wees om vrae te vra nie. Jy hoef nie alles van geld, belasting, beleggings of finansiële produkte te verstaan voordat jy begin leer nie.
En miskien die belangrikste: Ek sou vir my 18-jarige self gesê het dat finansiële onafhanklikheid nie net beteken dat jy baie geld verdien nie.
Dit beteken dat jy die kennis en vermoë ontwikkel om verantwoordelike keuses oor jou eie lewe te maak.
V: Wat is die belangrikste lewenslesse wat jy as enigste kind by jou ouers geleer het?
A: Om as enigste kind groot te word, het beslis ’n invloed gehad op wie ek vandag is.
Ek het van kleins af baie tyd in die geselskap van volwassenes deurgebring. Dit het my gemaklik gemaak om met mense van verskillende ouderdomme te kommunikeer, vrae te vra en my eie mening te vorm.
Ek het ook geleer om my eie geselskap te geniet en onafhanklik te dink.
Omdat ek nie broers of susters gehad het nie, moes ek dikwels self maniere vind om my besig te hou, en ek dink dit het my verbeelding en nuuskierigheid gestimuleer.
Ek het in ’n relatief klein myngemeenskap grootgeword, maar was altyd nuuskierig oor die groter wêreld.
Daardie begeerte om nuwe dinge te ontdek, het later ’n groot rol gespeel in my studies, loopbaan, die kies van my lewensmaat, internasionale ervarings en natuurlik ... LivvSky.
Wat ek veral uit my kinderjare saamneem, is dat jou omstandighede nie noodwendig die grense van jou moontlikhede hoef te bepaal nie.
V: Wie sou jy uitsonder as rolmodelle in jou vormings- en studiejare?
A: Ek dink rolmodelle hoef nie noodwendig bekende mense te wees nie.
Ek is nog altyd geïnspireer deur mense wat met toewyding werk, verantwoordelikheid aanvaar, geleenthede raaksien en bereid is om buite hulle gemaksone te beweeg.
Gedurende my studiejare het ek doelbewus probeer om my bloot te stel aan mense en omgewings waar ek kon leer. Mense wat meer oor die lewe weet as ek – ek doen dit nou nog.
Ek het byvoorbeeld onbetaalde internskappe by koerante, tydskrifte en radiostasies gedoen omdat ek wou verstaan hoe die bedryf werk en by ervare mense wou leer.
Daardie blootstelling het my geleer dat jy nie altyd vir ’n geleentheid hoef te wag om na jou toe te kom nie. Soms moet jy die deur self gaan oopklop.
Vandag glo ek steeds dat ’n mens by baie verskillende mense iets kan leer, selfs al stem jy nie met alles saam wat hulle sê of doen nie. Dit moet wel net met respek vir mekaar se verskillende sienings gepaard gaan.
Dit is ook een van die idees agter LivvSky: om jong meisies toegang te gee tot verskillende rolmodelle en perspektiewe. Gewone, navolgenswaardige vroue wat werklik uitsonderlik presteer, maar dit pronk nie op sosiale media nie. Dis belangrik om te onthou dat privaatheid ook ʼn kommoditeit is.
V: Wat is die hoogtepunte en mylpale in jou lewe en loopbaan?
A: Ek is gelukkig dat ek reeds ’n verskeidenheid ervarings kon hê wat my persoonlik en professioneel gevorm het.
Een van my vroeë hoogtepunte was om met vyf onderskeidings te matrikuleer – ondanks ʼn uiters uitdagende jaar vir my persoonlik.
Gedurende my universiteitsjare het ek as adjunkredakteur en later hoofredakteur van die universiteitskoerant gedien. Dit was ’n waardevolle geleentheid om my liefde vir kommunikasie, joernalistiek en leierskap te ontwikkel. Dit het ook vir my die geleentheid gebied om te besef dat ek meer van die bestuursaspekte van ʼn besigheid hou as om die nuutste voorbladstorie na te jaag.
’n Ander besondere ervaring was toe ek Mej Kampus NWU gewen het, daarna die nasionale Mej SA Kampus-kompetisie gewen het en Suid-Afrika in 2011 by die World Miss University-kompetisie in Suid-Korea verteenwoordig het. Daar het die gogga van internasionaal reis, om nuwe mense te ontmoet, en nuwe kulture te ervaar my behoorlik gebyt!
Professioneel is ek trots op my loopbaan in projekbestuur, kommunikasie, organisasieleierskap en besigheidsbestuur, asook op die voltooiing van my MBA aan die NWU Besigheidskool.
Op persoonlike vlak is dit natuurlik ’n groot voorreg om ma van twee dogters te wees. Hulle hou my op my tone, maar ons kort sterk vroue in Suid-Afrika, so ek en Martin-David sien kans om hulle groot te maak.
En dan is die stigting van LivvSky vir my ’n besonder betekenisvolle nuwe hoofstuk. Dit is die geleentheid om baie van my vorige ervarings, belangstellings en vaardighede saam te bring in iets wat hopelik ’n werklike verskil in jong vroue se lewens kan maak.
V: Vertel ons van ’n paar van jou geite, voorkeure en afkeure.
A: Ek is van nature ’n baie nuuskierige mens. Ek hou daarvan om vrae te vra, nuwe mense te ontmoet en om te verstaan waarom mense op ’nbepaalde manier dink en optree. Ek sal vir ure kan sit en filosofeer oor die lewe! Ek is veel meer geïnteresseerd in ’n betekenisvolle lewe as ’n lewe wat net op papier indrukwekkend lyk.
Ek is ook iemand wat graag nuwe dinge aanpak en wat dit geniet om idees in werklikheid te omskep. Martin-David spot altyd en sê hy is versigtig om ʼn idee vir my te gee, want dan begin ek al klaar dink hoe ons dit ʼn werklikheid kan maak. Ek is ʼn doener in murg en been!
Internasionale reis is een van my groot liefdes. Ek geniet dit om nuwe lande, kulture en leefwyses te ontdek. Ek glo blootstelling aan ander omgewings verbreed ’n mens se perspektief op ’n besondere manier.
Ek hou ook baie van kosmaak, nuwe geregte en interessante koservarings.
Wat my afkeure betref, hou ek nie daarvan wanneer mense se potensiaal beperk word bloot omdat hulle nie toegang tot die regte kennis of geleenthede het nie. Ek is ook nie mal daaroor as mense hulself beperk deur klein te droom nie.
Ek glo ook dat ’n mens nie elke geleentheid hoef aan te gryp net omdat dit oor jou pad kom nie, dus probeer ek doelbewus kies waaraan ek my tyd en energie bestee.
En ʼn geit ... ek het nog nooit van die woord “oulik” gehou nie.
V: Hoe balanseer jy die veeleisende energie van ’n nuwe besigheid met jou gesinsverpligtinge?
Ek dink balans is iets wat ’n mens voortdurend moet heronderhandel, veral wanneer jy ’n nuwe onderneming begin.
Om ’n besigheid van die grond af op te bou, verg baie tyd, energie en emosionele betrokkenheid. Daar is altyd nog iets wat gedoen kan word. Al skakel jy die rekenaar af, beteken dit nie jou brein skakel af nie.
Terselfdertyd is ek ’n ma van twee dogters, en my gesin bly ’n baie belangrike deel van my lewe.
Ek probeer daarom al hoe meer doelbewus omgaan met my tyd en prioriteite.
Een van die belangrikste lesse wat ek geleer het, is dat jy nie vir elke geleentheid ja kan sê nie. Voordat ek tot iets instem, vra ek myself of dit by my waardes pas, of ek die kapasiteit het om dit behoorlik te doen en of dit my nader bring aan die lewe wat ek wil bou.
Ek dink ook dis belangrik om realisties te wees. Daar is dae waarop die besigheid meer aandag verg, en ander dae waarop my gesin eerste kom. Dit gaan oor balans.
Ek wil nie voorgee dat ek elke dag die perfekte balans handhaaf nie. Glad nie! En ek is ook glad nie die perfekte mens nie, maar ek glo ook daar is ʼn deernisheid en menslikheid daarin om te besef en te aanvaar dat jy nie perfek is nie. En in vandag se KI-waansinnige wêreld kan ons juis doen met meer menslikheid.
Vir my gaan dit eerder daaroor om bewustelik te besluit wat op ’n bepaalde oomblik die belangrikste is en om te aanvaar dat jy nie altyd alles tegelyk kan doen nie.
V: Wat wil jy nóg in jou lewe bereik? Wat is jou einddoel?
A: Ek dink nie ek het een spesifieke eindpunt waarna ek werk en waar ek dan gaan besluit dat ek klaar is nie.
Ek is van nature nuuskierig, en ek hoop om altyd aan te hou leer, om te ontwikkel en nuwe dinge te ontdek.
Met LivvSky wil ek graag iets bou wat groter as ekself kan word.
My droom is dat LivvSky mettertyd ’n erkende platform sal wees waar jong vroue toegang kan kry tot praktiese lewenskennis, inspirerende mense, nuwe geleenthede en ’n gemeenskap wat hulle help om met selfvertroue hulle eie toekoms te vorm.
Ek wil graag hê dat die onderneming uiteindelik ook internasionaal kan groei en dat ons met organisasies en kundiges in ander lande kan saamwerk. Maar ek wil nie net professionele sukses nastreef nie. Dis nie wat my ten volle gelukkig maak nie.
Ek wil ook ’n teenwoordige ma wees, tyd saam met my gesin deurbring, reis, nuwe ervarings hê en ’n lewe bou wat vir my persoonlik betekenisvol is.
As ek eendag kan terugkyk en weet dat ek my eie moontlikhede ondersoek het, dat ek nie uit vrees teruggehou het nie, en dat ek ander jong vroue gehelp het om dieselfde te doen, sal dit vir my baie beteken.
My einddoel is nie bloot om ’n suksesvolle onderneming te bou nie. Dit is om ’n betekenisvolle lewe te leef en iets agter te laat wat vir ander mense waarde het.