29 Augustus 2026
'Dís waarom ek kunsmatige intelligensie nie as bedreiging beskou nie'
deur Marthinus Swart

Ek het onlangs ‘n hersiene weergawe van ’n akademiese artikel voorgelê aan ‘n paneel wat bestaan het uit drie lede: een van Anthropic in San Francisco, een van OpenAI in Kalifornië, en een van Google in Mountain View. Twee van die drie se bevinding was “verwerp”, en een het teruggekom met die boodskap “hersien”.
Dit was my artikel. Die paneel het uit KI-modelle bestaan.
Toe die eerste bevindings inkom, was ek taamlik gefrustreerd. Eers vier rondes later het al drie modelle saamgestem dat ek kan publiseer. Dit is dié soort ding wat mense na my mening behoort te verstaan wanneer die term kunsmatige intelligensie (KI) ter sprake kom.
Ek is besig met ‘n meestersgraad in politieke wetenskap aan die Universiteit van Pretoria en bedryf ’n klein digitale-strategie-onderneming. My studie handel oor hoe Russiese propagandanetwerke Afrika-gehore op Telegram teiken. Dit is ‘n groot korpus, meer as 4 000 boodskappe in drie tale. Sonder KI-instrumente sou dit letterlik onmoontlik gewees het om dit binne die tydsduur van ’n meestersgraad te ontleed.
Maar hier is die punt wat mense maklik mis: Dit is nie omdat KI slim is nie. Dit is omdat ek geleer het hoe om saam met KI te werk en dit te gebruik.
Die driepartybeginsel
Terug na my paneel. Toe my artikel deur ‘n internasionale tydskrif teruggestuur is met ’n bevinding van “desk-reject”, kon ek een van twee dinge doen: Ek kon dit as mislukking beskou en opgee, of ek kon ’n stelsel bou om die volgende weergawe self te toets voordat die redakteur weer betrokke raak.
Ek het toe my eie paneel opgestel. Drie KI-modelle van drie verskillende maatskappye, elkeen met sy eie sterk en swak punte. Die eerste ronde was pynlik: 21 bevindings, meestal ernstig. Nadat ek tot ’n groot mate herskryf het, was daar nog bevindings. Die derde ronde minder. En eers met die vierde ronde het al drie modelle bevind die stuk kan “gepubliseer” word.
Wat laat dit werk?
Geeneen van die modelle was heeltemal reg nie. Elkeen het ’n eie perspektief gehad. Fable van Anthropic was analities streng, GPT van OpenAI juridies presies, Gemini van Google empiries direk. Waar hulle saamgestem het oor ’n leemte, was dit ’n werklike probleem. Waar hulle van mekaar verskil het, moes ek self dink.
Die krag van KI in my werk is dus nie dat dit vir my dink nie. Dit is dat dit vir my drie ander perspektiewe gee wanneer ek dit die nodigste het.
Wat KI vir my nie doen nie
KI doen nie strategie vir my nie. Dit skryf nie my proefskrif nie. Dit ken nie ’n Suid-Afrikaanse politieke argument nie. Dit ken nie my kliënte nie. Dit dink ook nie oor die etiek van my werk nie.
Wat dit wel doen, is die werk wat ’n mens uitmergel: die eerste konsep, die twaalfde vertaling, die twintigste soortgelyke e-pos, die honderdste kruisverwysing. Wat vroeër ’n week gevat het, vat nou ’n uur. Nie omdat die masjien meer weet nie, maar omdat ek die vaardigheid het om vir die masjien die regte vrae te vra en die uitset behoorlik te evalueer.
Waarom ek dit nie as bedreiging sien nie
In akademiese en professionele kringe bestaan die vrees dat KI “ons werk gaan vat”. Maar my ervaring is die teenoorgestelde. Dit neem die tydverkwistende dele van my werk oor sodat ek meer tyd het vir dit wat werklik my insette benodig, naamlik die argument, die etiese oordeel, die kliëntverhouding, die kritiese lees.
Dit verg van my ’n stel vaardighede; vaardighede wat ’n goeie navorser, ’n goeie bestuurder of ’n goeie professionele mens nog altyd moes hê:
• Weet presies wat jy wil hê, want vae insette gee ’n vae uitset;
• Weet hoe om die uitset teen die werklikheid te toets, want KI het die vermoë om oortuigend verkeerd te wees; en
• Weet waar jou verantwoordelikheid begin en eindig, want die masjien is nie aanspreeklik nie. Jy is. KI vergroot net wat reeds daar is, of wat nie daar is nie.
Wat dit vir besighede beteken
Toe ek my besigheid begin het, was die vraag hoe ek met vier mense dieselfde werk gedoen kan kry as ’n agentskap met tien mense?
Die antwoord was nie “werk harder” nie. Dit was “werk anders”. Ons gebruik KI-instrumente om die massa-werk te doen sodat ons kop-mense hul koppe vir kop-werk kan gebruik. Dit maak ons vinniger, ja, maar belangriker: dit maak ons beter. Kliënte kry deeglike werk wat vroeër te duur en onbekostigbaar sou wees.
Maar, en dit is ‘n groot maar, dit werk net omdat ons weet wat ons doen. Ek het gesien wat gebeur wanneer mense KI gebruik sonder daardie fondasie. Die resultate is onbetroubaar en soms erger as die alternatief. Die instrument werk saam met vaardigheid. Op sy eie werk dit nie.
Ek is beslis nie bang vir KI nie en laat my nie laat afskrik deur die opskrifte oor “die einde van akademiese integriteit” of “die einde van professionele werk” nie. Die vraag is nie of KI ons werk gaan vat of doen nie. Die vraag is wie gaan die vaardighede opbou om dit reg te gebruik, en wie agter gaan bly.
Ek weet aan watter kant ek wil wees.
Marthinus Swart is 'n MA-kandidaat in politieke wetenskap aan die Universiteit van Pretoria en stigter van 4What Digital. Het hy sy voorgraadse studie en honneurs met die hulp van ‘n NHS-lening gedoen.