5 November 2026
Dié wêreldkampioen wil nog baie goue spore met spiesgooi trap
deur Wilma de Bruin

In Augustus vanjaar het die 19-jarige Jan-Hendrik Heymans, SA se goue spiesgooier, ingenieurstudent aan Noordwes Universiteit (NWU) én leninghouer van die Noordelike Helpmekaar-studiefonds, die atletiekwêreld behoorlik aan die brand gehad.
Nie net het hy met elk van sy ses spiesgooipogings by die O.20 wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Eugene, Oregon, die spies verder as 76m geslinger nie, maar sy finale gooi van 80,50m was, op drie ná, die beste wenpoging nóg by dié internasionale O.20-sportgeleentheid. Boonop was dit meer as 6m verder as dié van Ashish Yadav se silwermedaljegooi van 74,09m.
En nou lê ’n nuwe hoofstuk vir hom voor wanneer hy in Januarie 2027 sy studies in die VSA voortsit, met spiesgooi steeds hoog op sy agenda.
Van jongs af sportmal
Al op laerskool het hy alle sportsoorte beoefen want hy was eenvoudig “mal oor sport”.
“Hoewel ek in my skooldae ʼn baie goeie sportman was, het ek in die streekproewe begin uitval. Ek wou altyd ʼn rugbyspeler word en ek was nie sleg nie, maar my ma-hulle het altyd gesê hulle sal toesien dat ek ekstra afrigting in krieket kry, maar as ek wil rugby speel, sal ek maar net by die skool kan oefen want hulle wou nie geld belê sodat ek kan seerkry nie.”
Dit was egter sy vertoning op die krieketveld wat sy potensiaal as toekomstige spiesgooier blootgelê het. “Ek (en die afrigters) het gou besef ek gooi ver. Ek was altyd op die grens en het die balle diep en ver ingegooi. Later het my ma gesê ek verveel my seker dood want die balle kom net once in a blue moon grens toe, en sy het voorgestel dat ek spiesgooi op die proef stel.
“Ek het toe in graad 8 ophou rugby speel en was smiddags erg verveeld. Dit het my laat besluit om, pleks van niks te doen nie, wel spiesgooi te gaan oefen. In graad nege het ek steeds spiesgooi geoefen en myself oortref. Ek het vir die eerste keer die streekspan gehaal...en toe ook sommer SA’s.
Later dié jaar het ek my eerste groot afstand van 62.20m met die 600g-spies gehaal. Van graad 10 was ek bo-aan die ranglys en toe ek met spiesgooiers van my ouderdom meegeding het, het ek nie verloor nie. Later in matriek, toe ek ʼn besering opgedoen het, was dit die eerste keer sedert graad 10 dat ek ʼn kompetisie verloor het. Ek moes toe uitsit, maar dit het my goed gedoen, want nou, ʼn jaar later, is ek hier.”
Deugde, fokus, deursettingsvermoë
Wat deugde betref, beskryf hy homself as iemand wat nie sommer negatief raak nie. “Ek is gewoonlik die ou wat jou sal probeer ophelder, maar my slegte eienskap is presies ook dít – ek sal jou partykeer irriteer met my sprankelende persoonlikheid, veral as jy net opgestaan het!”
Ofskoon hy op skool min dinge ernstig opgeneem het en nie waffers gevaar het ten opsigte van konsentrasie en deursettingsvermoë , het hy die afgelope seisoen baie geleer. “Ek sou egter altyd, as dit by wedywering kom, wel probeer om te fokus. Niemand het ooit kon dink dat ek ʼn provinsiale span sou haal nie, en toe word ek wraggies vir die Suid-Afrikaanse span gekies,” voeg hy by.
Ná al sy beserings was dit vir hom ook allerbelangrik om te sorg dat hy sy liggaam in stand hou om sodoende fisiek sterk en gesond te bly. Hoewel hy glo sielkundiges het ʼn rol om te speel, het die feit dat hy nooit sielkundige hulp gesoek het nie, maar self die mas wou opkom, hom ʼn sterker mens gemaak.
“Daar was dae wat ek regtig wou huil, want dit het gevoel of alles teen my is, maar ek het my geestelik ingestel dat as die kop reg is, moet die liggaam net volg. Voor byeenkomste het elke moontlike scenario in my kop afgespeel sodat dit gevoel het of ek al menigmaal daar was. Dit was nietemin nog stresvol, maar toe kon ek op die stres, en nie die gooi fokus nie, want ek het die tegniek so goed as wat ek kon, in my kop gekry. Dít is wat ek gevoel het toe ek in die eindronde gegooi het: ek het my brein afgeskakel, aan niks gedink nie en net gegooi. Dit alleen was vir my ʼn groot oorwinning. Pleks van om te veel te fokus, is dit soms net nodig om te sê ‘ek het dit’...en jy gooi net.”
By nabetragting was die goud wat hy in Augustus verwerf het, vir hom baie goed in soverre dit vir hom deure oopgemaak het. “Maar wat daai goud eintlik vir my beteken het, was dat ander mense besef het dat die plaasseuntjie sonder skoene en vol grappe ’n wêreldkampioen kon word sonder dat sy pa, oupa of ander familielede top-atlete was. Ons was maar net gewone mense, én ek was altyd bang om met die goeie atlete te gaan praat, juis omdat hulle so goed was. Nou hoop ek die goue medalje kan vir mense wys wat ’n doodgewone mens kan vermag.”
Olimpiese Spele
Om SA eendag by die Olimpiese Spele te verteenwoordig en te probeer om die wêreldrekord te haal, is Jan-Hendrik se ideaal. En voordat hy na die VSA vertrek om sy studies volgende jaar daar voort te sit, gaan hy probeer om SA en selfs die wêreld se O.20-rekord te oortref.
“Ek is baie optimisties, maar ek glo dat, soos Jo Black sing ‘Jy’s in beheer van jou bestemming, hoe jy uitkom, is jou eie besluit’. Later het hy vir my gesê dit moes eintlik wees ‘Hy’s in beheer van jou bestemming’...dus meen ek die Here se plan is reeds geskryf. Ek is opgewonde om te sien hoe dié pad gaan lyk en wat die bestemming gaan wees.
Sportheld
As dit kom by uitstaande sportsterre, is Jan Zelezny sy held, “nie soseer omdat hy die wêreldrekord in spiesgooi hou nie, maar omdat hy nederig is en nooit ʼn groot affêre daarvan maak as hy ʼn groot gooi gehad het nie. As dit enigsins moontlik sou wees, sou ek baie graag met Zelezny wou praat en vra hoe hy so nederig bly selfs al het hy die wêreldrekord so groot gebreek.”
Akademie
Ondanks sy merkwaardige sportprestasies, besef Jan-Hendrik maar alte goed dat beserings dalk sy loopbaan as spiesgooier onverwags in die wiele kan ry. “Jy kry net één ernstige besering, dan is jy uit. Dus het ek besluit om eers ʼn goeie graad agter my naam te behaal en dán voort te gaan met spiesgooi. Dit sal my hopelik ook help om my droomberoep – om trekkers of hommeltuie tot voordeel van die landboubedryf te bou – te beoefen.”
“Ek het op meganiese ingenieurswese besluit, maar ek wou nie sport agterlaat nie en het tussendeur geoefen,” voeg hy by. “Dit is regtig ʼn lekker kursus en ek hou baie van die werk. Dit was egter nie maklik om akademie én sport suksesvol te balanseer nie, maar ek kon dit darem tot op ʼn punt doen. SA se universiteitstelsels maak dit egter baie moeilik om albei te behartig en dus gaan ek nou VSA toe om te probeer om ʼn graad daar te verwerf. Ek sal hopelik die akademie daarna vir ʼn paar jaar opsy kan skuif en kyk hoe ver ek met spiesgooi kan vorder.”
Om aan die NWU op Potchefstroom te kan studeer, is nog ʼn bonus. “Net om in die oggend op te staan en die voëltjies te hoor fluit, is baie lekker. Dan voel ek sommer vars. Hier in Potchefstroom is dit maar moeilik, want jy is so half in ʼn dorp maar so nou en dan kom sê die apies darem ook vir ons hallo.”
SA se werkskeppingsprobleem is nog iets wat hom na aan die hart lê en as hy ʼn daadwerklike bydrae kan lewer om dit op te los, sal hy graag “mense wil motiveer om nie hulle geld op drank en dobbel te mors nie, maar om waarde tot iets te voeg en dan weer te verkoop.”
Advies
Sy raad aan voornemende tersiêre studente?
“As jy jou kop reg instel, kan jy baie meer bereik as wat jy self wil glo. Maar ek glo ook dat elke mens sy plek het en as jy nog nie op jou plek is nie, is dit baie moeilik om jou kop reg in te stel.
“Te meer, as hulle besluit om sport te beoefen, moet hulle nie die akademie agterlaat nie want akademie gaan die ding wees wat jou ná jou sport dra. As mens nou laat slap lê, sal jy ná jou sportloopbaan heeltemal van onder af moet begin om jou vir die lewe daarbuite te bekwaam,” voeg hy by.
NHS
Hy gee ook ruim erkenning aan die Noordelike Helpmekaarstudiefonds wat hom met sy studies gehelp het.
“Sonder dié bystand sou ek straks nooit NWU toe kon gaan nie. My sport wat ek daar kon beoefen, het vir my baie deure oopgemaak en ek het ’n volle beurs gekry om in VSA te gaan studeer.”
Ten slotte: You can’t keep a good man down, is Jan Hendrik se lewensleuse. Tot nou toe is hy ʼn sprekende voorbeeld dat hy dit vergestalt. Te meer, alles dui daarop dat hy dit vorentoe nog net verder gaan presteer.
