Ek het die onderwys as loopbaan gekies (Grondslagfase) omdat ek ‘n passie het vir kinders en die ontwikkeling van mense. Dit is vir my ongelooflik bevredigend om mense te kan help en ‘n positiewe verskil in hul lewens te maak. Ek geniet dit om te sien hoe leerders groei en hul potesiaal bereik.

Deur onderwys het ek voortdurend die geleentheid om myself te ontwikkel en te verbeter. Ek is tans ‘n tweede jaar student aan die Akademiese Reformatoriese Opleiding en Studies (AROS). Ek besef hoe bevoorreg ek is dat die NHSF my help om Universiteit toe te gaan. Die finansiële ondersteuning het vir my die geleentheid geskep om my droom te volg, wat andersins onmoontlik sou wees. Ek is dankbaar ek het die geleentheid om te studeer en die nodige kwalifikasies en vaardighede te verwerf wat my in staat stel om ‘n verskil te maak in die lewens van my leerders.