Ek is tans in my 4de jaar van BHSc Chiropractic aan die Universiteit van Johannesburg (dit is ‘n 6 jaar kursus). Ek was vanaf my 1ste-3de jaar ons klasverteenwoordiger en is vir 2023/2024 verkies as “Student Chiropractic Association of Gauteng” se “Funksie Koördineerder”. Ek geniet elke oomblik van my kursus! Ek was nog altyd vasbeslote dat ek met mense gaan werk, maar ek kon nie ‘n gepaste rigting vind wat by my drome en persoonlikheid gepas het nie. In 2020 het ek ‘n “gap-jaar” geneem en het as “au pair” met ‘n pragtige 8 maande oue seuntjie gewerk. Hy het spesiale behandeling by ‘n chiropraktisyn ontvang en my hart het dadelik vinnger begin klop! Ek het meer oor die beroep geleer en gesien hoe dit ‘n groot verskil in iemand se lewe kon maak en verligting bring.
My passie vir die chiropraktyk word elke dag uitgeleef deur te leer hoe om mense te help op ‘n kreatiewe en holistiese manier. Die chiropraktyk leer my om na die mens as ‘n geheel te kyk op ‘n mediese- en emosionele vlak en hulle dienooreenkomstig te behandel. Ons kursus is akademies uitdagend en geïntegreerd, maar ek geniet elke oomblik daarvan. Ons evalueer ‘n probleem vanuit verskeie hoeke en behandel die pasiënt op ‘n ingeligte en holistiese manier. “Holisties” verwys na die behandeling van die pasiënt in totaliteit, inaggenome die geestelike- en sosiale faktore, eerder as net die simptome van ‘n siekte.
Deur ‘n groot rol te speel op die studenteraad, reël ek sosiale funkies vir die studente, om seker te maak almal neem af en toe ‘n blaaskans in ons bedrywige kursus.
Ek is opreg dankbaar vir die geleentheid wat die Noordelike Studieleningsfonds vir my bied om my studies te kan voltooi en so ook ‘n belangrike rol te vervul tussen my mede-studente. Daarmee saam ontvang ek met waardering en dankbaarheid ‘n merietetoekenning. Ek is deel van ‘n enkel-ouer huishouding, waar ek nog altyd gemotiveer is om hard te werk en my drome na te jaag, ongeag die omstandighede. Te danke aan die NHSF is ‘n groot las van ons skouers afgehaal en sal ek ewig dankbaar wees daarvoor.
Ek sien baie uit daarna om volgende jaar in die UJ Chiropractic-kliniek te begin werk, wanneer ons begin met ons MHSc. Hiermee my opregte dank aan NHSF wat bydra tot die verwesenliking van my droom.