Elna Rossouw (née Fouché) is in 1957 in Kaapstad gebore en voltooi laerskool op Jan van Riebeeck. In 1970, word haar pa na Johannesburg verplaas en die gesin trek in by Woodleyweg 43, Cresta − vandag die tuiste van NHSF. Elna matrikuleer in 1974 aan Hoërskool Linden, en is in 1975 deel van die eerste eerstejaarsgroep op die nuwe Auckland Park-kampus van die Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg). Hier verwerf sy ‘n BA- en ‘n honneursgraad in Kommunikasie.

Ná haar studies begin sy as algemene verslaggewer by Beeld werk en word in 1981 aangestel as artikelskrywer vir die tydskrif SARIE se kantoor in Johannesburg. Sy bedank ses jaar later om tweelingseuns groot te maak en begin ‘n vryskutloopbaan. Kort ná die geboorte van haar derde seun sluit sy by rooi rose aan en word later bevorder tot besturende redakteur van die tydskrif.

Aan die begin van die millennium, betree Elna die akademie en begin sy klasgee by haar alma mater in die Departement van Kommunikasie. In 2005 verwerf sy ‘n MPhil in Joernalistiek (cum laude) by die Universiteit Stellenbosch. In Desember 2021 word ‘n doktorsgraad in Joernalistiek (ook by US) aan haar toegeken.

Ná twee dekades in die akademie, tree Elna aan die einde van 2022 af … dankbaar vir die voorreg om die praktyk en die wetenskap van joernalistiek te kon kombineer. Sy is lid van die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (SANEF) en dien oor die jare as beoordelaar op verskeie panele wat uitmuntendheid in joernalisitiek bekroon.

Elna is getroud met Kobus, ‘n prokureur, en hulle woon al langer as veertig jaar in hul huis in Berario, Johannesburg.