Te danke aan die Noordelike Helpmekaar Studiefonds kon ek my graad in BRekeningkunde aan die Universiteit van Stellenbosch in 2023 voltooi. Nie net was hierdie papier peperduur nie, maar het dit ook talle laat aande se klippe kou, vroegoggende by die biblioteek en vele gebede en ondersteuning vereis.

“Hindsight is 20/20 vision.” Die herinneringe van angstige eksamentye word vervang met herinneringe van MyBrew se warmsjokolade met die gebabbel van vriende op ‘n nat wintersoggend, swem in die Coetzenburgdam op n warm somersaand en die saamdrom van meroen Maties-hemde op die paviljoen tydens Varsity Cup.

Mens vergeet van die al die klippe kou en onthou die goeie tye. Wat ‘n voorreg om die Here se hand deur al die moeilike tye te aanskou! Ek is tans besig om klippe te kou aan my nagraadse diploma in rekeningkunde, waarna ek by PWC in Stellenbosch my 3 jaar van klerkskap gaan aanpak. Maar gelukkig weet ek daar wag vir my klomp herinneringe om oor terug te dink in 2024.

Weer eens baie dankie aan NHSF wat hierdie geleentheid vir my ‘n werklikheid gemaak het.