Ek is ’n finalejaar onderwysstudent aan die Universiteit van Pretoria. My hoofvakke is Afrikaans, Besigheidstudies en Frans, wat ek dan kan aanbied vir graad 7 tot Matriek.

Ek was nog altyd baie lief vir tale, en kan myself sien Afrikaans of Frans aanbied by enige Hoërskool. Ek het van graad 8 tot matriek Frans gehad op skool, en toe besluit om nie net daar op te hou nie. Ek het aangehou met Frans as ekstra vak op Universiteit, en het dit tot op derdejaarsvlak. Ek is nie vir ’n oomblik spyt oor my besluit nie, en glo dit sal baie deure vir my oopmaak in die toekoms.

Die Noordelike Helpmekaar Studiefonds het gehelp om die finansiële druk op my familie te verlig, veral in vandag se moeilike ekonomiese tye. Die Studiefonds het ook vir my die geleentheid gegee om my drome na te jaag. Onderwys was nog altyd my grootste passie, en om terug te kan gee aan die gemeenskap my grootste doel. Ek wil kinders se lewens verander, en vir hulle ook rede gee om so lief te wees vir skool soos wat ek was en is.

Om my passie uit te leef was ek die afgelope twee jaar betrokke by die Jakaranda Kinderhuis in Pretoria, waar ek weekliks ’n huis van 10 seuns gehelp het met hul skoolwerk en voorbereiding vir eksamens.

In my vrye tyd doen ek graag fotografie, en draf ek saam met vriende. Dit is vir my ’n goeie uitlaatklep en het oor tyd nog ’n passie vir my geword. Draf het vir my deursettingsvermoë geleer, en hoe belangrik dit is om jouself te druk om dinge te bereik wat jy nooit gedink het jy sal kan nie. Oor die afgelope twee jaar het ek deelgeneem aan verskillende wedlope, waar ek al in twee halfmaratonne gehardloop het.

Dit is belangrik om hard te werk in alle aspekte van jou lewe. Niks kom vanself nie, en niks in die lewe is verniet nie.

Sonder die Noordelike Helpmekaar Studiefonds sou ek nooit die geleentheid gehad het om die hoë hoogtes te bereik nie.

Daarom sien ek uit na wat my toekoms vir my inhou.