Ek is tans ‘n tweedejaar MBChB student aan die asemrowende Universiteit van Kaapstad. Vandat ek kan onthou het ek ‘n passie gehad om ‘n dokter te word en met dié droom om my graad aan my huidige Universiteit te voltooi.

 

Elke dag is ‘n uitdaging op sy eie, maar dis die lekker deel van Medies. Jy weet nie wat elke dag inhou nie. Dissipline, deurlopende harde werk, deursettingsvermoë en my geloof speel beslis die belangrikste rol in my akademie. Ek moes baie aanpassings maak vanaf Hoërskool na die Universiteits-lewe toe, en ek glo dat dit my help om as mens te groei. Ek het ‘n brandende passie om mense te help en gelukkig te sien. Hierdie studierigting bied aan my die geleentheid om hierdie passie uit te leef elke liewe dag van my lewe. Hoe bevoorreg is ek nie om te kan sê dat ek werklik lief is vir dit wat ek doen nie.

 

Ek is verskriklik dankbaar vir die geleentheid wat ek het om ‘n studierigting te volg waarin ek regtig belangstel, en niks  hiervan sal moontlik wees sonder ons Vader nie. Toe ek verlede jaar besluit het om alles oor te gee aan God en te besef het dat Hy klaar my lewensreis beplan het, toe kon ek werklik elke dag stresvry lewe en weet dat ek sal uitkry wat ek insit.

 

Ek wil baie dankie sê aan die Noordelike Helpmekaar Studiefonds vir die ondersteuning wat hulle aan my bied , asook om vir soveel ander studente die geleentheid te bied om hulle drome te kan najaag. Ek sal ewig dankbaar wees vir wat hulle vir my gedoen het!