MUSIEK VLOEI IN HAAR ARE

Toe Zanta Hofmeyr op 17-jarige ouderdom die geleentheid kry om aan The Juilliard School of Music in New York te studeer, is ’n lank-gekoesterde ideaal van dié vioolvirtuoos bewaarheid. Geseën met hope musiektalent, het sy haar gou in die Groot Appel onderskei en die een musiekprestasie na die ander ingeryg. Vandag is sy nie net een van Suid-Afrika se voorste violiste met ’n formidabele repertoire en stringe eerbewyse nie, maar sy druk ook haar stempel elders in die musiekwêreld af. Hieronder vertel sy onder meer van hoogtepunte tydens haar studiejare en loopbaan; hoe haar musiekloopbaan ontvou het, wie ’n blywende indruk in haar lewe en loopbaan gemaak het en haar raad vir die jonger geslag om, soos sy, die topsport te bereik.

Vertel meer oor jou studiejare by Juilliard, asook hoogtepunte/mylpale in dié tyd ?

Ek is in Januarie 1980 op 17 na die VSA waar ek in September 1980 met BMus-studies by The Juilliard School in New York (NY) begin het. Dit was die opwindendste ervaring om in dié bruisende, polsende en gejaagde omgewing te kon bly en studeer. Ons was verplig om konserte by te woon, en ek was weekliks in Carnegie Hall en/of by die Lincoln Centre waar ek na die NY Filharmoniese orkes en internasionaal bekende soliste kon luister. Ek het self elke jaar ’n solokonsert in Paul Hall by die Juilliard-skool uitgevoer en was in 1984 ’n wenner van die Artists International-kompetisie. Agt wenners word jaarliks gekies en elkeen kry die geleentheid om ’n solokonsert in Carnegie Recital Hall te speel. (Dit staan vandag bekend as Weil Recital Hall.) Dit was in my finale jaar en sekerlik dié hoogtepunt van my vyf jaar in New York.

Nog ’n hoogtepunt was toe die komponis Dimitri Shostakovitch se seun, Maxim, ons Juilliard Orkes gedirigeer het in uitvoerings van sy pa se opera, ‘Lady Macbeth’. Ons het ook op ’n keer besoek ontvang van die dirigent Leonard Bernstein en kon sien hoe hy Gustav Mahler se tweede simfonie dirigeer. Ek was toe ’n eerstejaarstudent, en hy het met die senior orkes gewerk.

In watter mate het die NHSF jou gehelp tov jou studies?

Ek het beurse gehad wat my tot die einde van my derde jaar in staat gestel het om te studeer. (In my matriekjaar, 1979, het ek aan verskeie kompetisies deelgeneem wat ek almal gewen het en ek het ook die SASOL musiekbeurs ontvang wat vir drie jaar gegeld het). Vir my vierde jaar het ek net ’n gedeeltelike beurs van Juilliard gehad en daar was ‘n R10 000 tekort. Destyds was dit baie geld. Die NHSF het die R10 000 aan my geleen en ek kon dus my studies voltooi. Ek was toegelaat om my BMus en MMus in vier jaar te voltooi deurdat ek ekstra modules in my derde jaar gedoen het en het ook my finale BMus-konsert in my derde jaar pleks van die vierde jaar te speel.  Die MMus-konsert het toe in my vierde jaar plaasgevind. Dit het my dus ’n hele jaar se studiekoste gespaar.

Hoe het jou loopbaan as violis ontvou en wat wil jy nog, loopbaangewys, bereik?

Ek het in 1985 teruggekeer en ’n pos as vioollektrise by die Universiteit van Noord-Wes gekry. Ek was ook konsertmeester van die Pro Musica-orkes. Dit het my in staat gestel om die studielening aan NHSF terug te betaal.

Daarna was ek vir drie jaar in die destydse Nasionale Simfonie-orkes. Ek het in 1989 besluit om my loopbaan verder net aan solo-optredes, kamermusiek en vioolonderrig te wy. Ek het in Amerika en in Suid Afrika by kamermusiekfeeste opgetree en klas gegee.

Ek was vir ses jaar mede-professor in viool by die Universiteit van Pretoria en deurgaans ook deeltyds betrokke by die Universiteit van die Witwatersrand. Saam met die vioolonderrig het ek die heeltyd konsertoptredes gehad waarmee ek tot nou toe volhou.

Verskeie werke is deur komponiste aan my opgedra en konserte by kunstefeeste vorm ’n groot deel van my aktiwiteite op die verhoog.

Ek het ses verskillende solo-CD’s opgeneem saam met mede-kunstenaars: Wim Viljoen (orrel), Malcolm Nay (klavier), Elna van der Merwe (klavier),  Charl du Plessis (klavier) en Ilia Radoslavov (klavier). Met Radoslavov het ek ’n toer in SA en Amerika onderneem, met die 10 sonates vir viool en klavier van Beethoven.

Ek was lid van die Musaion Trio, die Eroica Trio en tans die Wits Trio. In Julie vanjaar begin ek ook optree met ’n nuwe groep genaamd ’Take Four’ wat klavierkwartette sal uitvoer.

In 2016 is ek genooi om beoordelaar te wees by die Lipizer Internasionale vioolkompetisie in Italië. Ek tree ook gereeld as beoordelaar by kompetisies in Suid Afrika op, o.a. UNISA musiekkompetisies.

In 2000 was ek betrokke by die Morekolodi-musiekopleidingsprogram en sedert 2008 is ek die beskermvrou van die Thabang Ka Mmino-orkesprogram by St Matthews Hoërskool in Soweto. Beide programme is begin deur Suster Berchmans, ’n onderwyseres met ’n passie vir die kunste.

Die Thabang Ka Mmino-orkesprogram by St Matthews Hoërskool in Soweto waarvan Zanta beskermvrou is.

Afgesien van solokonserte saam met pianiste, speel ek ook dikwels as solis met simfonie-orkeste.

‘n Groot eer het my te beurt geval toe Ludwig Tassner in 2003, op versoek van ‘n musiekliefhebber ‘n roos na my vernoem het.

Vertel kortliks hoe jou lewenspad van geboorte af geloop het en wie/wat jou bronne van inspirasie was?

My ouers is albei goeie pianiste, koorafrigters en orreliste. My ma was ’n operasangeres en hoewel my pa ’n predikant was, het hulle gereeld saam musiek gemaak. Ek het my dus van geboorte af in ’n musiekomgewing bevind en is van meet af diep geraak deur die skoonheid en emosionele impak van veral klassieke musiek. Ek is die oudste van agt kinders en ons het almal verskillende musiekinstrumente leer speel en ook soms saam opgetree.

Ek was bevoorreg om uitstekende musiekonderwysers te kon hê en op skool het ek talle geleenthede gekry om klavierbegeleidings vir kore, asook solo-optredes met beide klavier en viool te doen.

Wyle Prof Walter Mony was die dirigent van die SAUK se junior orkes, en hy het ’n groot vormende rol in my lewe gespeel. Dorothy DeLay was my vioolonderwyser by Juilliard, en sy het ’n blywende invloed en indruk op my gelaat. Daar is te veel name om te noem… Ria de Klerk, Peggy Haddon, Vincent Fritelli, Alan Solomon, Betty Pack, Klaas van Oostveen, Lilian Fuchs, Felix Galimir, Joel Crossnik, Claus Adam, Masao Kawasaki en Hyo Kang. My kollegas in Suid-Afrika inspireer my ook geweldig. Ons het uitstekende musici in ons land.

Wat doen jy vir ontspanning/om jou batterye te herlaai?

Ek doen tai-chi en klopdans en ek stap gereeld in die buitelug. Ek geniet dit ook om met vriende en familie te kuier. Mense laai my batterye na ure se alleen sit en viool oefen.

Hoe sou jy jouself opsom: bv waarvan hou jy, wat krap jou om,  wat maak jou intens gelukkig, waaroor voel jy beswaard?

  1. Ek hou van: Mense, rose, Labradors, olifante, dolfyne en walvisse en musici wat nederig is en die musiek van o.a. Bach, Brahms, Beethoven, Bruch en Britten.

2.Wat my omkrap: Oneerlikheid en manipulatiewe gedrag.

  1. Wat my gelukkig maak: Mooi harmonieë.
  2. Waaroor ek beswaard voel: Besoedeling.

Wat is die ‘goue riglyn’ in jou lewe, maw wat hou jou op koers?

Dankbaarheid. En my viool.

As jy enige inspirerende persoon op aarde, op watter gebied ook al, kan ontmoet, wie sou dit wees en wat sou jy met hom/haar wou bespreek?

Christiane Amanpour en/of Koningin Elizabeth van Brittanje. Ek sou graag wou weet van watter tee hulle hou. Ek sal ook wil weet hoe laat hulle elke dag opstaan en wat hulle oggendroetine is.

COVID-19 het die wêreld, SA inkluis, op sy kop gedraai: hoe het dit jou/julle geraak en wat het die pandemie jou geleer?

Al my konserte is gekanselleer. Ek het geleer om die oomblik en die mense wat in elke oomblik by my is, te waardeer. My goeie gesondheid was – en is steeds – vir my een van die grootste geskenke.

Wat is jou raad vir die jonger geslag/NHSF-leninghouers om die topsport te bereik?

Niks kan harde werk vervang nie en terwyl jy jonk is, moet jy alles insit om jou doel te bereik…en wees nuuskierig!

 

Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie