Wilmari Badenhorst kan nie sê presies waarom sy besluit het om medies te studeer nie, maar wat sy wél weet, is dat die vriende wat sy tydens haar studiejare gemaak het, haar ‘vir altyd’ verander het.
“Ek sou nie vandag hier gewees het as dit nie vir húlle was nie – hulle het ’n moeilike tyd na pret laat lyk…al was dit net vir die vriende wat ek gemaak het, het dit elke uur van my studies die moeite werd gemaak. Andersins was my studentelewe redelik voorspelbaar en het dit meestal om studie gewentel. Ek het min tyd gehad vir ander aktiwiteite,” beklemtoon sy.
Wilmari het by haar pa se suster van NHSF gehoor. “Een van my niggies het die Helpmekaarfonds gebruik vir haar studies. ’n Klein bietjie navorsing het ons op die spoor gebring van die fonds, wat gehelp het om die finansiële las vir my studies te help dra.” Daarvoor is sy dankbaar. Ook vir die “redelik gladde verloop” van haar lewe.
“Ek het grootgeword in ’n liefdevolle huis en is baie geleenthede gebied. My ouers was altyd my belangrikste bron van inspirasie. Hulle het my nooit gedwing om goed te doen nie, maar het my altyd geïnspireer om my bés te doen. Om ’n dokter te word, was so ’n geleentheid: om iets moeilik te probeer en om dit te leer waardeer.”
Maar, soos so baie landgenote, het Wilmari aan die begin van haar studies nie in haar wildste drome gedink dat COVID-19 oor haar pad as medikus gaan kom nie.
“Ek kan nie begin om te beskryf watter verskrikking COVID meegebring het nie. Ek het nog nooit hierdie soort hopeloosheid beleef nie. Ek en my kollegas is almal uitgeput en sien nie regtig lig voor in die wapad nie. Ek veronderstel wat dit my geleer het, was om net aan te hou. Benader dit een dag op ‘n slag, sodat dít wat voorlê, jou nie oorweldig nie. My lewensleuse is: ‘This too shall pass…al die slegte dinge sal verbygaan, maar geniet die goeie terwyl daar ’n geleentheid is.”
Dat sy ná haar uitmergelende gemeenskapsdiensjaar van plan is “om ’n bietjie weg te breek van die mediese veld en ander opsies te ondersoek”, kan mens verwag. “Ek wil ’n bietjie tyd in Suid-Korea deurbring om die taal te bestudeer en die kultuur te leer ken,” vertel sy geesdriftig.
Tans het sy maar min vrye tyd, maar as sy kans kry, kyk sy graag na rolprente, luister musiek en kuier saam met haar vriende…afhangende van die ruimte wat COVID-regulasies toelaat. “En as ek saam met iemand kon eet – dood of in lewende lywe – sou ek Elon Musk kies. Ek sou graag wou weet hoe om die soort dryfkrag te ontwikkel wat nodig is om nie net gemiddeld te wees nie.
“Ek is nie ‘n baie ingewikkelde persoon nie, want ek geniet klein dingetjies in die lewe. Ek kyk graag na internetgrepe van my gunsteling-musikante wat dom dinge doen. Verkeer en stadige bestuurders frustreer my grensloos, maar een ding wat my ontsaglik gelukkig maak, is om saam met my vriende en familie te lag. Op die oomblik is iets wat ‘n gevoel van absolute moedeloosheid by my veroorsaak, mense wat weier om die COVID-entstof te kry,” sê sy sonder omhaal.
Het sy hoop vir Suid-Afrika?
“Ek dink Suid-Afrika het baie potensiaal, maar die groot ongelykheid, armoede en werkloosheid gaan iets besonders verg om te oorkom.”
Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie