As daar nou een één mens is wat die woord omgee by uitnemendheid uitleef, is dit Liezl Pretorius. Daarvan getuig haar passie en werk vir die behoud ons “groot blou waters” en “alles wat daarin woon”, deeglik.
“Ek is ongelooflik lief vir alles wat die oseaan behels, so wanneer ek die groot blou waters sien, word my hart bly. (Daar is min dinge so oulik soos ‘n baba rob!) Ongelukkig is dit ook een van die dinge wat groot hartseer in my lewe veroorsaak… wanneer ek sien hoe sleg die oseaan – en alles wat daarin woon – hanteer word ten opsigte van besoedeling, wanbestuur, oorbevissing, ens.
Dr Liezl Pretorius by haar geliefde robbe.
“Dit is hoekom ek, op my klein manier, ‘n bydrae probeer lewer tot die navorsing van hierdie ongelooflike deel van die aarde. Hopelik kan dít wat ons leer van die oseaan en die lewende wesens daarin help dat dié wat die groot wetgewende besluite neem, ingelig daaroor kan besluit en hopelik hierdie bron van lewe in so ’n mate bestuur dat toekomstige geslagte nog steeds die wonder daarvan kan beleef,” vertel dié toegewyde jong dokter en voormalige NHFS-leninghouer geesdriftig.
Studies
Dit was juis haar liefde vir die biologiese veld wat haar na die Universiteit van Pretoria gelei het.
“Omdat ek nog altyd ‘n liefde vir die biologiese veld gehad het, het ek in 1999 vir my mediese graad (MBChB) by Tukkies begin studeer. Ek het egter gedurende my laaste paar jaar besef dat my liefde nie eintlik in mensmedisyne lê nie, maar aangesien ek geen krediet vir my studies tot in daardie stadium sou ontvang nie, het ek besluit om die graad te voltooi,” vertel sy.
“Die mariene omgewing was egter al van kleintyd af baie na aan my hart, en ek het ’n beurs gekry om direk vir ’n honneursgraad in Mariene Biologie by Nelson Mandela Universiteit in te skryf. Dit was ’n ongelooflike leer-ervaring en het my oë (en hart) oopgemaak vir die navorsingswêreld. Ek het besef dat ek betrokke wil bly in navorsing, veral wat mariene soogdiere en voëls betref, maar dat ek ook graag my kennis vir gesondheid wil benut.
“Ek het vir ’n jaar vir ’n wildsorganisasie gewerk en toe ingeskryf vir veeartsenykunde by Onderstepoort waar ek die graad in 2013 voltooi het. Een van die beste herinneringe van my jare as veeartsenystudent was dat my jonger sussie saam met my gestudeer en in die koshuis gewoon het.”
NHSF
Aangesien ons my studies nie ten volle kon bekostig nie, het ek na-uurs in ’n laboratorium gewerk, en my ouers het ondersoek ingestel na organisasies wat lenings aan studente bied.
NHSF het bo al die ander organisasies uitgetroon ten opsigte van die diens wat hulle lewer, en die fonds het my deur die jare gehelp om my drome te bewaarheid. Ek sal altyd dankbaar wees vir die geleentheid wat NHSF my gebied het om nie op te hou werk om my droom te verwesenlik nie,” beklemtoon sy.
Opwindende vooruitsig
Nou wag kontrakwerk op Gough Eiland vir The Royal Society for the Protection of Birds (bekend as RSPB, in Brittanje) – ’n vooruitsig wat haar opnuut opgewonde maak!
“Gough Eiland is ’n Britse eiland in die Suid-Atlantiese Oseaan, maar Suid-Afrika het ’n weerstasie daar wat al van 1956 beman word. Dit is ook die teelgrond vir miljoene seevoëls en is dus bekend as die “Seabird Capital of the World”.
“Ongelukkig het muise jare gelede met skepe op die eiland gekom, wat die laaste paar jaar die seevoëls se broeisukses begin benadeel het. Eers het hulle begin om die eiers te eet, maar later het hulle selfs die kuikens en nou volwasse voëls begin aanval en doodmaak. En omdat hierdie voëls geen natuurlike predatore op die eiland het nie, is hulle heeltemal naïef en beveg nie die muise nie, wat hulle maklike teikens maak.”
“Aan die begin van die jaar het die Gough Eiland Restorasieprogram afgeskop en het hulle die volle jaar gewerk om van die muise ontslae te raak. Daar is tans nog van die endemiese voëls in aanhouding wat hopelik binnekort weer vrygelaat sal word, en ek is baie dankbaar dat ek kan gaan help met die versorging en vrylating van die voëls,” vertel sy geesdriftig.
“’n Soortgelyke program gaan binne die volgende paar jaar op Marion Eiland geloods word (lees gerus meer daaroor op die Mouse-Free Marion webtuiste: www.mousefreemarion.org) en ek hoop om op die een of ander manier ook daarby betrokke te raak.
“Marion Eiland is baie na aan my hart aangesien ek al twee keer daar gewerk het. Ek beoog om die wildlewe se siektes op Marion Eiland te bestudeer en dan hopelik eendag weer op Marion, maar ook op ander eilande, betrokke te raak by navorsing en veldwerk in die bewaringssektor.
Lewenspad
Gebore in Johannesburg, het Liezl haar skoolloopbaan by Laerskool Florida begin maar in Vanderbijlpark by Laerskool DF Malherbe voltooi.
“Daarna is ek Hoërskool Transvalia toe waar ek in 1997 matriek geskryf het. Vervolgens is ek Amerika toe vir ’n jaar en het as au pair by ’n baie oulike familie op Bainbridge Island naby Seattle gewerk.
“In 1999 begin my studies by Tukkies se mediese fakulteit en ek voltooi my graad in 2004. In 2006 kry ek die wonderlike geleentheid om mariene biologie nagraads te studeer en dít is toe dat ek verlief geraak het op die navorsingsveld.
In 2007 werk ek vir ’n jaar by ’n wildsorganisasie, waarna ek in 2008 begin studeer het vir veeartsenykunde. Ek behaal my graad as veearts in 2013 en werk vir ’n kort rukkie in ’n gemengde praktyk voordat ek vir die eerste keer Marion Eiland toe is.
“Daarna werk ek weer tydelik in ’n gemengde praktyk en begin deeltyds met ’n Meestersgraad in Dierkunde (wat om pelsrobbe gewentel het). In 2018 kry ek weer die geleentheid om vir ’n jaar op Marion te gaan werk. Daarna werk ek tydelik in ’n kleindierpraktyk voordat ek tot onlangs vir ’n veterinêre farmaseutiese maatskappy gewerk het. Nou is ek oppad Gough Eiland toe om vir ’n paar maande met seevoëls te werk.
Inspirasie
Haar bron van inspirasie was nog altyd haar familie, beklemtoon Liezl.
“Ondanks moeilike tye het niemand ooit opgegee of ophou probeer om hulself en dié om hulle se lewens te verbeter nie. My ouers is ongelooflik hardwerkend en het van kleins af ons kinders geïnspireer om dieselfde te doen sodat ons ons drome kon bereik. Hulle het my besluite nog altyd ondersteun en my aangemoedig om aan te hou probeer. Ek sal vir ewig dankbaar wees vir hulle ondersteuning.”
‘Goue riglyn’
“Ek glo vas dat God van die begin af in beheer is van my lewe en dat Hy bepaal waar my voete loop. Ek kon nog altyd Sy Hand voel in die stuur van my lewe, ten spyte van die feit dat ek self nie altyd geweet het wat aangaan nie.”
’n Inspirerende persoon met wie sy graag sou wou gesels, neem haar ook terug na die Woord.
“Ek sou wou teruggaan in tyd en met Koning Salomo van die Bybel gesels. Ek sou graag aan hom wou verduidelik waar ons ons tans bevind ten opsigte van die bewaring van die oseaan en sy bronne, en sodoende ‘intap’ in sy wysheid…miskien sou mens by hom ’n paar oplossings kry vir sommige van die kritieke probleme waarmee ons op die oomblik sit.
COVID
Liezl glo die COVID-pandemie het “ons almal gewys hoe aanpasbaar die menslike ras (en die diereryk) is.
“Ons kan ons baie vinniger aanpas by omstandighede as wat voorheen gedink is. Dít gee my ook hoop dat ons met beter besluite, en natuurlik die nodige wilskrag en regte ingesteldheid, positiewe veranderinge in die wêreld kan bring.”
“Persoonlik het dit my weer herinner hoe kosbaar een van die mees verspeelde kommoditeite op aarde, naamlik TYD, is. Elke oomblik saam met geliefdes is spesiaal en moet nie vanselfsprekend aanvaar word nie.”
Toekoms
As jong Suid-Afrikaner bly sy hoopvol oor die land en sy toekoms.
“Hoop is nooit te versmaai nie. Ek glo daar is genoeg goeie mense in ons land om positiewe veranderings te bewerkstellig en ek glo dat die meeste van ons mense baie lief is vir Suid-Afrika. En waar hoop en liefde is, kan mens nie verkeerd gaan nie,” beklemtoon sy ten slotte.
Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie