“ONS HET BAIE STOF TOT DANKBAARHEID”

”Dit is so maklik om in hierdie tye negatief te raak, dat mens voel of die wêreld aan sy einde is. Maar jy vergeet dat omstandighede soveel erger kon wees; dat mens geseënd is dat jy nie hoef te sukkel om in ’n wêreldoorlog te oorleef nie. Ek is so geseënd met ’n dak oor my kop, ’n bed om in te slaap, kos om te eet… en soveel meer.” Aldus Ilana Nigrini, binneversierder wat met behulp van ’n NHSF-lening haar droomberoep kan beoefen. Lees hieronder meer oor haar lewensloop, studies, bron van inspirasie, toekomsdrome…

Gradedag by UJ 

V: Vertel meer oor jou universiteitstudies, waarom jy op jou studierigting besluit het en hoogtepunte/mylpale in dié tyd?

A: Ek het in my graad 11-jaar verbruikerstudies as vak gehad. Daar het ons ’n bietjie aan binneversiering geraak, en ek was dadelik verlief daarop. Aangesien ek ’n kuns- sowel as ’n tegniese aanleg het, het ek ondersoek ingestel na albei studierigtings. Hierdie navorsing het my laat droom om ’n binnenshuise ontwerper te word…

Tydens my studies was daar nie veel eksamens nie, maar die praktiese werk het my dag en nag besig gehou. Die hoogtepunte was om die finale projek op die tafel te kon sit en die vrugte te kon pluk wat my harde werk opgelewer het. My algehele hoogtepunt was my jaareind-tentoonstelling, waar twee van my projekte vir openbare uitstalling gekies is. Hierdie tentoonstelling is waar net die beste werke van elke fakulteit gekies word om aan die publiek te vertoon. In ’n aand van ‘runway glam’, het ek ook aan die modeparade deelgeneem, waar die model ontwerpstudente se werk vertoon het.

Ek het geweet dat ek wil streef na meer as net gordyne kies en kussings rond gooi, so na die opedag by UJ het ek gesien dat binnenshuise ontwerp soveel meer tegnies is, maar dat kuns steeds ’n groot invloed is. Ek het in my matriekjaar alles in my vermoë gedoen om by UJ aanvaar te word. Ek het workshops [werkgroepsessies] bygewoon, ekstra ure in my kunsklas spandeer, navorsing gedoen, ens. Dit was baie moeite en tyd, maar dit was beslis die moeite werd.

V: Hoe het jy van NHSF te hore gekom en in watter mate het die fonds jou gehelp tov jou studies?

A:  My ouers se vriende wie se dogter ook ’n NHSF-lening gehad het, het ons daarvan vertel. Die NHSF het my en my sussie se studies moontlik gemaak, en ons kan met vrymoedigheid sê dat dit ’n moeitelose, maklike proses was om aansoek te doen. Die Fonds het nie net gehelp om my studies te betaal nie; dit het ook gehelp dat ek geld kon spaar vir ’n groot mediese operasie om ’n genetiese defek te herstel wat my lewe op verskeie maniere verbeter en verander het.

V: Wat is jou planne vorentoe en wat jy nog, loopbaangewys, wil bereik?

A: Ek het ’n werk gekry waar ek baie gelukkig is want ek leer elke dag iets nuuts. Ek strewe daarna om eendag my eie onderneming te begin waar ek jong ontwerpers en argitekte ’n kans kan gee om hul in ’n eie loopbaan te vestig. Ek was bevoorreg om ’n onderneming raak te loop wat ’n kans met ’n jong ontwerper wou waag – en dít is presies wat ek vir ander wil doen.

V: Vertel kortliks hoe jou lewenspad van geboorte af geloop het en wie/wat jou bronne van inspirasie (rolmodelle) was?

A: Ek is ’n gebore en getoë Albertonner. Op laerskool was my kop 90% van die dag in die wolke, maar dit was van die lekkerste tye toe dit nie nodig was om my oor die wêreld se probleme te bekommer nie.

Op hoërskool het ek aktief begin deelneem aan skoolaktiwiteite, soos netbal, kunswedstryde, koor, kultuuraande, spreekkoor, ens. Ek het my tuis gevind in die kunste, waar ek verskillende maniere gesoek het om my wáre self uit te beeld en uit te leef. My hare was al rooi en pers, lank en kort; ek het my eie klere begin maak; ek het my kamer geverf met bome en voëls teen die mure, wolke teen die dak, ens. My kreatiewe kant het vrye teuels gehad en kon dróóm…

My inspirasie was die natuur en blomme, want selfs al sê mens vir ’n blommetjie dat dit lelik is, blom hy steeds, selfs al is dit nie perfek nie. Elke blom is ’n meesterstuk. Ek het gestrewe om soos die blomme in die veld te wees. Ek wil nie omgee oor wat mense van my se nie, ek wil net leef om my gelukkig te hou en my lewensdoel te bereik, selfs al weet ek nie  presies wat dit is nie.

V: Wat doen jy vir ontspanning/om jou batterye te herlaai?

A: Ek is mal oor enige vorm van kuns en teken, en verf graag in my vrye tyd. Verder spits ek my tans daarop toe om selfversorgend te wees deur my eie naels te versorg, hare te kleur en te sny, ens.

Ek kyk gereeld na dokumentêre programme en rolprente oor diere en die natuur, veral seediere soos haaie. Dit is vir my verskriklik interessant om meer van hulle te sien en by hulle te leer. Die hoeveelheid organismes wat saamwerk om ’n habitat te skep en te laat funksioneer, is ondenkbaar. Ek vind vreugde in die wete dat selfs al voel die lewe deurmekaar en gejaagd, is daar soveel orde om ons waarvan mens kwalik bewus is.

V: Hoe sou jy jou opsom: bv waarvan hou jy, wat krap jou om, wat maak jou intens gelukkig, en wat is jou sterkste/swakste karaktertrekke?

A: Ek is gelukkig as ek tyd saam met my man, my ouers, sussie, swaer en my honde kan bestee. ’n Lekker braai op ’n Saterdagmiddag is die hoogtepunt van my week. Ek is onlangs getroud en het weggetrek van my ouerhuis, dus sien ek hulle net oor die naweek. Familie is verskriklik belangrik vir my, en ek koester my tyd saam met my gesin.

Ek word omgekrap as mense nie vir my luister nie en dink dat ek nie weet waarvan ek praat nie. Ek is nie sommer iemand wat ’n persoon sal korrigeer tensy ek min of meer weet waarvan ek praat nie. Maar om dan geïgnoreer te word, is vir my aaklig. Ek hou ook nie daarvan as mense alles wat ek sê, afskeep nie. Ek het ’n reg tot my mening en as dit iemand nie pas nie, sal ek verkies om nie daaroor sleggesê te word nie.

Ek glo my sterkste karaktertrek is dat ek vinnig leer en aanpas. Ek kon al swem toe ek twee jaar oud was. Op laerskool was ek nie gekies vir die netbalspan nie, maar op hoërskool was ek vir 2 jaar in die eerste span. Ek streef daarna om nuwe goed te leer, want dit gee my ’n  gevoel van geluk en sukses.

My swakste karaktertrek is dat ek aandag-afleibaar is. Ek het geleer om iets te doen of te sê terwyl ek daaraan dink sodat ek nie daarvan vergeet nie, maar dit veroorsaak dat ek mense soms in die rede val met dinge wat glad nie oor die gesprek gaan nie. Ek werk daaraan, en my man help my om in gedagte te hou dat nie alles waaraan ek dink, dadelik gesê of gedoen hoef te word nie.

Dolgelukkig getroud met Tian Nigrini

V: Wat is die ‘kompas’ in jou lewe, maw wat hou jou op koers?

A: My man, my ouers, my sussie en my beste vriendin. Hulle help my om my lewe op koers te hou sodat ek ’n suksesvolle loopbaan kan hê, ’n goeie vrou kan wees en daarna te kan streef om ’n beter mens te word.

  • My man hou my geanker in liefde en herinner my elke dag daaraan dat ek goed genoeg is en die vermoë het om elke taak aan te pak en te volvoer.
  • My ouers is vir my ’n voorbeeld van ’n gesonde huwelik en hulle ondersteun my in al my drome en wense.
  • My sussie herinner my dat selfs al raak dinge moeilik, is daar altyd iets beter om die draai. Sy is al deur baie in haar lewe, maar sy bly positief en liefdevol teenoor my.
  • My beste vriendin is al my steunpilaar vandat ek sewe jaar oud was. Ek gaan na haar toe wanneer ek voel of ek nie meer met lewe kan ‘cope’ nie, en sy sal altyd daar wees om na my te luister en raad te gee.

V: As jy enige inspirerende persoon op aarde, op watter gebied ook al, kan ontmoet, wie sou dit wees en wat sou jy met hom/haar wou bespreek?

A: Ek sou beslis met Anne Frank wou gesels. Dié Jodin wat in 1929 in Duitsland gebore is, het weens die anti-Semitiese gevoel van die Duitsers, saam met haar ouers Amsterdam toe verhuis waar haar pa sy eie maatskappy op die been gebring het. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het sy in ’n 17e eeuse kanaalhuis (‘achterhuis’) weggekruip. Sy het nie die oorlog oorleef nie, maar haar beroemde dagboek is in 1947 gepubliseer.

Ek sou met haar wou gesels het oor hoe sy positief gebly en vir bykans drie jaar tot die bittereinde aanhou veg het. Sy het haarself nooit eerste gestel nie en mense in die donkerste tye bemoedig. Sy het mense liefgehad en sy het gedroom.

Dit is so maklik om in hierdie tye negatief te raak, dat mens voel of die wêreld aan sy einde is. Maar jy vergeet dat omstandighede soveel erger kon wees; dat mens geseënd is dat jy nie hoef te sukkel om in ’n wêreldoorlog te oorleef nie. Ek is so geseënd met ’n dak oor my kop, ’n bed om in te slaap, kos om te eet… en soveel meer. Ek wil graag soos Anne wees wat deur die moeilik en die seer die mooi aanhou sien het en die lig in mense se lewens was!

V: Jou kosbaarste besitting? Wat beteken dit vir jou?

A: My hondjie Bailey is verreweg my kosbaarste besitting alhoewel ek haar nie ’n ‘besitting’ kan noem nie  –  sy is deel van my familie. Sy is ’n swart Labrador wat in my graad 11-jaar in my lewe gekom het. Sy het my deur my laaste skooljare ondersteun, en terwyl ek nagte deur gestudeer het, het sy my altyd herinner dat sy daar is.

Sy is ’n liefdevolle en saggeaarde dier wat mens sal laat glimlag, selfs al is jy hartseer. As sy voel sy kry nie genoeg aandag nie, sal sy vir jou staar totdat jy vir haar ‘liefies’ gee. Sy beteken die wêreld vir my en selfs al is ek nie meer by haar en my ouers nie, gaan kuier ek steeds gereeld om haar te herinner hoe lief ek vir haar is.

Ilana en haar lieflinghond, Bailey

V: Hoe voel jy, as jong Suid-Afrikaner, oor ons land en sy toekoms?

A: Vir baie mense lyk die land se toekoms nie baie helder nie (en ek praat nie net van beurtkrag nie!). Dit voel of die land teen ’n snelle pas agteruitgaan en daar nie enige hoop is nie.

Maar die hoop moet nie in die toestand van land lê nie, dit  moet lê by die mense, die ‘unsung heroes’.

Ons het mense daar buite wat slaggate herstel, selfs al is dit nie hul werk nie. Ons het mense wat die strate skoonmaak sonder dat ander hulle moet vra. Ons het soveel potensiaal, maar mense sien dit nie raak nie en word verblind deur die negatiwiteit.

Daar is nie ’n ander land met die natuurskoon en diversiteit van Suid-Afrika nie!

Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie