Opleiding, hulpbronne skiet tekort
Laat ons nou maar eerlik wees: met uitsondering van ’n betreklik klein groepie uitskieters wat puik presteer en internasionaal kan meeding (én dit met groot lof doen), sukkel die grootste gros leerlinge in Suid-Afrika om die mas op te kom met vakke soos Wiskunde en Wetenskap…en skram hulle weg daarvan.
Parlementslede moes vroeër vanjaar hoor dat 57 persent van wiskunde- en wetenskap-departementshoofde by Suid-Afrikaanse hoërskole nie geskikte kwalifikasies in dié vakke het nie – een van die faktore wat matrikulante kniehalter om te slaag met die nodige wetenskap-, tegnologie-, wiskunde- en ingenieursvaardighede wat die land bitter nodig het.
“Dit is dus nie vreemd dat Suid-Afrika van die laagste wiskundepunte in die wêreld oplewer nie en dat minder as ’n derde van alle matriekleerlinge wiskunde neem. Van hulle, slaag net die helfte in hul eksamens,” sê dr Corrin Varady, uitvoerende hoof van die opvoedkundige tegnologie-platform, IDEA, wat gerig is op verpersoonlikte leerprogramme vir gemeenskappe met ontoereikende leerkragte en hulpbronne.
Opleiding skiet tekort
“Suid-Afrika bevind hom tussen die spreekwoordelike duiwel en die diep blou see. Enersyds is daar nie genoeg onderwysers wat gradueer nie, andersyds is bykans die helfte van alle onderwysers in diens van die Departement van Basiese Onderwys 50 jaar en ouer en sal hulle in die komende dekade moet aftree. Wat nou dringend nodig is vir onderwysers wat tans aan die hoof staan van wiskunde- en wetenskapdepartemente – van wie baie in vakke soos geskiedenis en aardrykskunde gegradueer het en nou bloot ’n ogie hou oor wiskunde en wetenskap – is om behoorlik opgelei te word. As dít nie gebeur nie, sal te veel kinders nie matriek deurkom nie, nie universiteit toe kan gaan nie en nie werk kan kry nie – wat net nog verder tot ons reeds hoë werkloosheidsyfer sal bydra.
“Voorts bevind ons ons in ’n globale digitale ekonomie. Mense is bekommerd dat tegnologie werkveiligheid gaan benadeel. Die grootste bedreiging is egter dat ons nie die al groter rol van tegnologie in al ons nywerhede en sektore begryp nie en ons huidige en toekomstige leerders nie toerus is om hulle rol in dié omgewing te speel nie. As ons tegnologiese ontwikkeling ignoreer, of as ’n gemeenskap nie oor die vaardighede beskik om hierdie innovasie en ontwikkeling aan te pak nie, sal ons jeug nóg ’n groter werkloosheidsrisiko loop,” beklemtoon hy.
STEM-vakke maak deure oop
In ons snel ontwikkelende wêreld waar tegnologiese ontwikkeling steeds nuwe uitdagings in die werkplek gaan bring, is dit uiters belangrik dat wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (afgekort met die akroniem STEM) deur deeglik opgeleide en bekwame onderwysers en dosente aangebied word; nie net om leerders se belangstelling in dié vakke verder te prikkel nie, maar hulle met die nodige kennis toe te rus om die toekoms en werkplek met vertroue aan te durf.
“STEM-vakke is sinoniem met innoverende, toekomsgerigte, digitale en tegniese vaardighede. In die werkplek verteenwoordig dit ’n groep wetenskaplikes, ingenieurs, argitekte, ekonome, innoveerders en tegniese ondernemers. Jy kan ’n spesialis op een van dié gebiede of oor ’n aantal areas in die STEM-kategorie in sowel akademiese studies of in ’n bepaalde bedryf wees,” verduidelik dr Varady.
Talle moontlikhede
Het iemand ’n bepaalde aanleg/talent nodig om STEM-vaardighede te bekom?
“Gestel ek argumenteer STEM kan wyd toegepas word in navorsing, innovasie of in die werkplek, is dit dan belangriker om te bepaal aanleg/talent is belyn met dít waarin jy die meeste belangstel, of waar jy voel jy die grootste bydrae kan maak? Dit is ook baie belangrik om te besef dat daar heelwat oorvleueling oor onderwerp- en vaardigheidsareas heen is.
“Byvoorbeeld, deur jou kennis en begrip van wetenskaplike metodologie op te knap, sal jou selfs help om ’n onderneming te bestuur of sagteware te ontwikkel. Dus: die identifisering van die areas in die STEM-landskap wat jou die meeste interesseer, is van die grootste belang. Dan kan jy bepaal hoe verskillende konsepte, aanleg, vaardighede en vakke jou kan help. Jy hóéf nie ’n uitstekende wiskundige en skeikundige te wees om STEM te ‘omhels’ nie,” beklemtoon dr Varady.
Toegang vir almal
‘‘n Fokus op STEM-vakke beteken nie dat dit tot nadeel moet wees van geesteswetenskappe, tale of sosiale/maatskaplike wetenskappe nie. Die klem op toegang tot STEM is egter kritiek omdat gelyke toegang tot dié vakke veel ‘skewer’ is as in ander vakgebiede. “As daar nie ’n wetenskap-, fisika- of chemieonderwyser, laboratorium of voldoende hulpbronne beskikbaar is nie, kan dié vakke eenvoudig uit die leerplan verwyder word. En dié vakke is ’n vereiste vir studente wat hul visier stel op tegniese werkplekke As ons nie deurgaans toegang tot STEM-vakke vir alle leerlinge verseker nie, bly dit net beskikbaar vir ’n klein gedeelte van die bevolking.
“Tegnologie het verskeie bane vir ons oopgemaak om die manier waarop ons inligting bekom, te globaliseer en te demokratiseer. Dieselfde geld STEM-vakgebiede. ’n Goeie onderwyser/dosent met goeie hulpbronne, kan bykans enige vak aanbied, maar van iemand wat onder druk is, sonder hulpbronne (soos digitale kurrikulum of digitale waardebepalings), kan daar nie verwag word om nuwe velde in hul eie onderwysloopbaan aan te durf nie.
Steun, hulpbronne die antwoord
“Steun aan onderwysers om vol te hou met STEM-vakke, asook die beskikbaarstelling van topgehalte hulpbronne van internasionale standaard vir sowel onderwysers as studente, sal verseker dat ons STEM-vakke kan bevorder en dit nie net ’n ‘bevoorregte’ loopbaanrigting is nie, maar toeganklik is vir álle leerders wat daarin belangstel.
“Ons bevind ons in die onbekende omgewing van Kunsmatige Intelligensie, en ‘masjienonderwys’ vorder met rasse skrede. Daar bestaan geen rede waarom Suid-Afrikaners nie die voortou kan neem en die positiewe impak van tegnologie op ons lewe kan besef en ervaar nie, maar om dít te kan doen, moet ons verseker dat ’n diverse, groot deel van die bevolking uit alle vlakke van die samelewing om die tafel sit wanneer die rol van STEM-gebiede en innovasie in ons lewe bespreek word.
“Dit is nóú die tyd om te fokus op hoëgehalte-onderwys vir álle leerders; op onderwys wat ander faktore as net die slaagsyfer in ag neem, veral uitkomste en die handhawing van basiese standaarde,” beklemtoon dr Varady ten slotte.
Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie