Deur Wim de Villiers
Wat hou die toekoms vir universiteite ná COVID-19 in? Dit is ‘n brandende vraag in hoër onderwys op die oomblik. Die koronaviruspandemie het die sektor in beroering gebring en dwing universiteite om hul huidige situasie en toekomsplanne opnuut te deurdink.
(Foto verskaf deur Gallo Images / Sowetan / Sandile Ndlovu)
Uitdagings
Aan die eenkant is universiteite se inkomste onder geweldige druk. Dit geld vir al vyf inkomstestrome – staatsubsidies, studentegelde, navorsingskontrakte, liefdadigheidskenkings en kommersiële inkomste. Die kwynende ekonomie laat almal baie versigtiger met hul geld te werk gaan.
Aan die anderkant, is die hoëronderwysmodel self besig om te verander. Beperkinge op fisieke kontak het universiteite gedwing om kontakonderrig tydelik op te skort en na noodafstandsonderrig, -leer en -assessering oor te skakel. En ondanks uitdagings, was die oorskakeling na die nuwe onderrigmetode oor die algemeen só suksesvol dat dit beslis ‘n langtermyn-uitwerking sal hê op hoe en wat ons vir wie aanbied.
Voordele
Hierdie uitdagings hou natuurlik ook voordele in. Wat inkomste betref, beteken finansiële druk dat universiteite meer soepel en vindingryk, en minder oorgerus en spandabelrig sal moet word. Hulle sal meer geld op hul eie moet inbring en hul bates beter moet aanwend.
Wat leer en onderrig betref, sal die toenemende gebruik van inligtings- en kommunikasietegnologie (IKT) opvoeding verbreed en verdiep – nie net deur volle aanlyn leer nie, maar ook deur gemengde en hibriede metodes, wat die beste van beide wêrelde kombineer.
Van buite gesien, mag waarnemers dit moontlik vreemd vind dat universiteite oor hul toekoms bekommerd is ondanks ‘n toenemende vraag na hoër onderwys. Om ‘n universiteitskwalifikasie te behaal, word steeds as die pad na sukses beskou, ‘n ontvlugting uit armoede en ‘n manier om ‘n beter lewe vir individue en hul gesinne te verseker. Voorts het die samelewing oor gegradueerdes nodig om tot die sosio-ekonomiese ontwikkeling by te dra en uitdagings wat mense elke dag in die gesig staar, die hoof te bied.
Verandering
Dit is inderdaad alles waar. Maar tye is aan die verander – om die waarheid te sê, dinge het reeds verander, feitlik oornag.
Baie mense het hul werk verloor of moet met verlaagde salarisse oor die weg kom. Met minder geld in omloop om vir studies te betaal, oorweeg al hoe meer jongmense dit om eers te begin werk en dan deeltyds te studeer.
Ander het moontlik jare gelede ‘n universiteitskwalifikasie behaal en is reeds geruime tyd in die arbeidsmark, maar nou word hulle gedwing om nuwe vaardighede aan te leer weens veranderende omstandighede. Hulle wil dalk ‘n nuwe rigting inslaan en oorweeg dit om weer te studeer, maar hulle kan dit nie bekostig om voltyds terug te keer kampus toe nie.
Boonop moet alle studente – ongeag hul ouderdom – al hoe meer hul pad in ‘n digitale wêreld vind, waar inhoud aanlyn bekom word en interaksie met ander mense ook daar plaasvind. Hulle kry toegang tot kennis en bou tot ‘n sekere mate netwerke in die kuberruim.
Nog dinge wat die hoëronderwyslandskap ontwrig het, is die bekendstelling van grootskaalse oop aanlyn kursusse (oftewel MOOCs) – hoewel hulle nog nie aan verwagtinge voldoen het nie, ondanks die ophef – asook ʼn bestendige toename in die aantal private hoëronderwysinstellings.
Ontwrigting kom
Dit het tot waarskuwings gelei dat hoër onderwys dieselfde ontwrigting kan verwag as wat Uber in die taxi-bedryf en Airbnb in die hotelbedryf veroorsaak het. In ‘n onlangse onderhoud met New York Magazine, voorspel Scott Galloway – wat as ‘n “Silicon Valley-drentelaar wat sy eie virtuele klaskamer begin het” beskryf word – dat die “post-pandemiese toekoms vennootskappe tussen die grootste tegnologiemaatskappye in die wêreld en vooraanstaande universiteite sal behels.”
Dít, sê Galloway, sal die partye in staat stel om “inskrywings dramaties uit te brei deur hibriede aanlyn-aflyn-grade aan te bied waarvan die bekostigbaarheid en waarde die hoëronderwyslandskap soos ‘n aardbewing sal verander.”
Vooruitsigte
So, wat is die vooruitsigte vir universiteite? In die eerste plek moet ons verseker dat ons ons kernaktiwiteite – om goedgekwalifiseerde gegradueerdes en toepaslike navorsing te lewer en ‘n positiewe invloed op die samelewing te hê – behoorlik onder die knie het. Dit beteken egter nie ons kan houtgerus agteroor sit en soos normaal met ons werksaamhede voortgaan nie. Dit beteken ook nie dat ons die baba saam met die badwater moet uitgooi nie.
Soos Clayton Christensen en Henry Eyring reeds in 2011 in The Innovative University geredeneer het, moet universiteite “meer bekostigbaar word, veral deur aanlyn-leertegnologie te omarm. Terselfdertyd moet hulle egter ook hul voltydse professore en fisieke kampusse, wat moontlik verkeerdelik as ‘n mededingende las in ‘n wêreld van tegnologiese ontwrigting beskou kan word, ten volle benut. Universiteite se professore en ruimtes waar mense van aangesig tot aangesig bymekaar kan kom, is dalk duur, maar is uniek en moontlik van onskatbare waarde.”
Buite die klaskamer
Dit is in onlangse besprekings by die Universiteit Stellenbosch se halfjaar-uitvoerende beplanningsforum herhaal. My eweknie by Wits, prof Adam Habib, was een van die paneellede wat aanlyn by ons aangesluit het vir ‘n besprekingsessie oor die post-COVID-19-universiteit. Hy het tereg daarop gewys dat ‘n redelike deel van die waarde van ‘n universiteitsopleiding bekom word uit dít wat buite die lesingsaal plaasvind om studente met “sagte vaardighede” toe te rus deur interaksie met akademici en medestudente en deur hulle te help om lewenslange netwerke te bou.
Al kan hierdie elemente nie maklik aanlyn nageboots word nie, het die deelnemers aan ons forum saamgestem dat ons iets soortgelyks in ons e-leer-aanbiedings sal moet begin inbou. Een van die ander paneellede, prof Agnes Binagwaho, visekanselier van die University of Global Health Equity in Rwanda, het daarop gewys dat dit haalbaar is om “praktyksgemeenskappe” aanlyn te bou, aangesien internettoegang geleenthede vir interaksie uitgebrei, en nie verminder het nie.
Digitale gaping
Dit is natuurlik gegrond op die aanname dat mens ‘n goeie (vinnig genoeg) internetverbinding het. Die digitale gaping sluit nog steeds baie mense uit en was een van die uitdagings wat Suid-Afrikaanse universiteite te bowe moes kom toe ons onsself aanlyn moes wend aan die begin van die COVID-19-krisis. Ons is almal daartoe verbind om geen student agter te laat nie, maar ‘n gebrek aan toestelle en data het verhinder dat hierdie doelwit eenvormig by alle instellings bereik kon word. So die kwessie gaan aandag verg alvorens aanlyn leer die belofte van die verbreding van toegang kan nakom.
Afrika
As ‘n mens uit ‘n vasteland-perspektief daarna kyk, het ons nie veel van ‘n keuse nie. Volgens die Verenigde Nasies het Afrika reeds die wêreld se jongste bevolking (met ‘n mediaanouderdom van 18), en sowat tweederdes van die voorspelde bevolkingsgroei oor die volgende drie dekades sal na verwagting op ons vasteland plaasvind. Die aanvraag na hoër onderwys gaan duidelik enorm wees, maar – soos prof Stan du Plessis, die US se Bedryfshoof, dit stel – daar is “geen moontlikheid” om aan hierdie behoefte te voldoen deur die tradisionele roete van fisieke universiteite nie.
Die saak vír e-leer
Terwyl aanlyn onderrig nie ‘n goedkoper alternatief vir kontakonderrig bied nie omdat tegnologiekostes bygevoeg moet word, is die skaal daarvan aanpasbaar. Die feit dat soveel meer studente bedien kan word, verlaag die eenheidskoste, wat dit meer doeltreffend en bekostigbaar maak. En dit is die grootste rede vir universiteite in Suid-Afrika en elders op ons vasteland om ons e-leer-aanbieding (insluitende volle aanlyn-, gemengde en hibriede metodes) uit te brei sodat ons ons ontwikkelingstrefkrag dramaties kan verhoog waar dit die nodigste is.
Samewerking
Soos gewoonlik bly gehalte van deurslaggewende belang. Ons moet die grondslag regkry, wat bemoeilik word deur die feit dat ons met nuwe mediums en modaliteite werk. Dit is waarom samewerking die sleutel is. Ons kan meer bereik as ons saamwerk en by mekaar leer.
Dink groot
Ons staar sonder twyfel reuse-uitdagings in hoër onderwys in die gesig. Om hulle die hoof te bied, sal net so ‘n reusepoging verg. Maar ek skep moet uit die raad van Daniel Burnham, die Amerikaanse argitek wat gehelp het om Chicago ná die groot brand van 1871 te herbou. Hy het gesê: “Moenie klein plannetjies maak nie; hulle is nie sterk genoeg om die bloed te laat bruis nie.”
- Prof Wim de Villiers is Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch. Hy dien ook as ondervoorsitter van Universities South Africa (USAf) en raadslid van die Association of Commonwealth Universities (ACU).
- Hierdie meingsartikel het oorspronklik op Daily Maverick verskyn.
Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie